hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Johannes 5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Geloof in die Seun van God

oorwin die wêreld

1. Elkeen wat glo en bely dat Jesus die Christus is, is uit God gebore, en elkeen wat die Vader liefhet, het ook sy kinders lief.

2. Hieraan weet ons dat ons moet aanhou om die kinders van God lief te hê: wanneer ons God liefhet en sy opdragte uitvoer.

3. Die liefde vir God bestaan daaruit dat ons sy opdragte gehoorsaam, en sy opdragte is nie moeilik nie,

4. want elkeen wat God as Vader het, oorwin die wêreld. Die oorwinning wat die wêreld verower het, is ons geloof.

5. Wie anders kan dit wees wat die wêreld verower as die een wat bely dat Jesus die Seun van God is?

6. Dit is Hy wat deur die water en die bloed gegaan het, nie slegs deur die water nie, maar deur die water én die bloed. Die Gees is die Een wat daaroor getuienis aflê omdat die Gees die waarheid is.

7. Daarom is daar dié drie wat getuienis aflê:

8. die Gees, die water en die bloed en al drie is dit eens.

9. As ons dan die getuienis van mense as betroubaar aanvaar – die getuienis van God dra soveel groter gewig. Hierdie getuienis kom van God af; sy getuienis oor sy eie Seun staan vas.

10. Almal wat glo in die Seun van God, dra dié getuienis in hulle eie hart; wie nie glo nie, het God as ’n leuenaar uitgemaak omdat hulle nie glo in die getuienis wat God oor sy Seun gelewer het nie.

11. En dit is die inhoud van sy getuienis: God het aan ons die ewige lewe gegee, en dié lewe bestaan in ’n hegte verhouding met sy Seun.

12. Hy wat deel het aan die Seun, het nou reeds die ewige lewe; wie nie deel het aan die Seun van God nie, het ook nie deel aan die ewige lewe nie.

Slot: Leef uit julle sekerhede

13. Ek skryf hierdie dinge aan julle sodat julle met die wete kan leef dat julle nou reeds deel het aan die ewige lewe, julle wat aanhou glo in die persoon van die Seun van God.

14. Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het, dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister.

15. As ons dan met die wete leef dat Hy na ons luister, na wat ons ook al vra, weet ons ook dat Hy die versoek wat ons gevra het, toestaan.

16. As jy sien dat jou broer of suster aanhou sonde doen – sonde wat nie tot die dood lei nie – moet jy ernstig bid en God sal aan hulle lewe gee. Dit geld vir dié sondes wat nie tot die dood lei nie. Daar is ook sonde wat tot die dood lei; ek sê nie dat jy daarvoor moet bid nie.

17. Elke optrede wat nie reg is nie, is sonde, maar nie elke sonde lei tot die dood nie.

18. Ons leef egter met die wete dat elkeen wat deur God verwek is, nie aanhou sonde doen nie. God bewaar dié een wat uit Hom gebore is en die bose kry nie vatplek aan hom nie.

19. Ons weet dat ons van God afkomstig is en dat die hele wêreld in die mag van die bose vasgevang lê.

20. Ons leef ook met die wete dat die Seun van God gekom het en aan ons die vermoë gegee het om die ware Een te herken. En ons leef in ’n hegte verhouding met Hom, die Ware Een, naamlik God se Seun, Jesus Christus. Hy ís die ware God, en Hy is die ewige lewe.

21. Kinders, loop tog wakker vir die afgode!