Ou Testament

Nuwe Testament

Yirmeyahu 44:6-25 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

6. daarom is My toorn en My woede uitgestort en het dit gebrand in die stede van Y’hudah en op die strate van Yerushalayim sodat hulle ’n puinhoop en ’n verlatenheid geword het soos dit vandag is.

7. Nou dan, so sê יהוה, God van die leërmagte, die God van Yisra’el: “Waarom berokken julle skade vir julself, om man en vrou, kind en suigeling uit Y’hudah af te sny en vir julle niemand te laat oorbly nie,

8. deurdat julle My tart met die werke van julle hande, om vir ander gode offers te brand in die land van Mitzrayim waar julle ingaan om te bly sodat julle afgesny mag word en ’n vervloeking en smaad onder al die nasies van die aarde word?

9. Het julle die booshede van julle vaders, die booshede van die konings van Y’hudah, die booshede van hulle vroue, julle eie booshede en die booshede van julle vroue vergeet wat hulle gepleeg het in die land van Y’hudah en op die strate van Yerushalayim?

10. Hulle het egter tot vandag toe nie berouvol geword nie en ook nie gevrees nie, of in My wet en in My instellings geloop, wat Ek voor julle en jul vaders gestel het nie;’”

11. daarom, so sê יהוה-Tzva’ot, die God van Yisra’el: ‘Let op, Ek gaan My gesig teen julle stel tot smart, selfs om die hele Y’hudah af te sny

12. en Ek sal die wat oorgebly het van Y’hudah wegvat, die wat hulle gedagtes daarop gestel het om Mitzrayim binne te gaan om daar te bly en hulle sal almal hulle einde sien in Mitzrayim; hulle sal deur die swaard val en deur hongersnood hulle einde sien. Beide groot en klein sal deur die swaard en die hongersnood sterf en hulle sal ’n vloek, ’n voorwerp van afgryse, van verwensing en van verwyt word.

13. Ek sal die wat in die land van Mitzrayim bly, straf, soos wat Ek Yerushalayim gestraf het, deur die swaard, die hongersnood en die pes.

14. Daar sal geen oorlewendes of vlugtelinge wees vir die wat oorbly van Y’hudah wat in die land van Mitzrayim gekom het om daar te bly en dan terug te gaan na die land van Y’hudah waarheen hulle verlang om na terug te gaan en te bly nie, want niemand sal teruggaan behalwe ’n paar vlugtelinge nie.’”

15. Toe het al die manne wat geweet het dat hulle vroue vir ander gode offers brand, saam met al die vroue wat daar staan, ’n groot menigte, insluitend al die mense wat in Patros, in die land van Mitzrayim, gebly het, Yirmeyahu geantwoord en gesê:

16. “Wat die boodskap betref wat u vir ons in die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוה verkondig het: ons gaan nie na u luister nie,

17. maar ons sal sekerlik elke woord doen wat uit ons mond uitgegaan het, deur offers te brand aan die koningin van die hemel en vir haar drankoffers uit te giet net soos ons self, ons voorvaders, ons konings en ons prinse in die stede van Y’hudah en op die strate van Yerushalayim gedoen het, want toe het ons baie brood gehad en was goed daaraan toe en ons het geen teëspoed gesien nie,

18. maar vandat ons opgehou het om vir die koningin van die hemel offers te brand en vir haar drankoffers uit te giet, het ons aan alles gebrek gehad en het ons ons einde teë gekom deur die swaard en die hongersnood.

19. Toe ons vir die koningin van die hemel offers gebrand en drankoffers uitgegiet het, was dit sonder ons mans dat ons vir haar koeke gemaak het na haar beeld en drankoffers vir haar uitgegiet het?”

20. Toe het Yirmeyahu met al die mense gepraat, met die manne en die vroue, met die hele volk wat hom so ’n antwoord gegee het en gesê:

21. “Wat die rokende offers betref wat julle in die stede van Y’hudah en op die strate van Yerushalayim gebrand het, julle en julle voorvaders, julle konings en julle prinse en die volk van die land, het יהוה hulle nie onthou en het dit nie alles in Sy gedagtes opgekom nie?

22. יהוה was nie langer in staat om dit uit te hou nie, weens die boosheid van julle dade, weens die verwerplikhede wat julle gedoen het; dus het julle land ’n puinhoop geword en ’n voorwerp van verskrikking en ’n vervloeking, sonder inwoners, soos dit vandag is.

23. Omdat julle offers gebrand het en teen יהוה gesondig het en nie die stem van יהוה gehoorsaam het of in Sy wet, Sy instellings en Sy getuienisse geleef het nie; daarom het hierdie katastrofe oor julle gekom, soos dit vandag is.”

24. Toe het Yirmeyahu vir die hele volk, insluitend die vroue, gesê: “Hoor en doen die woord van יהוה, die hele Y’hudah wat in die land van Mitzrayim is!

25. So sê יהוה-Tzva’ot, die God van Yisra’el, as volg: ‘Julle en julle vroue het met julle monde gepraat en dit met julle hande uitgevoer en gesê: “Ons sal ons geloftes wat ons gedoen het, sekerlik uitvoer, om offers te brand vir die koningin van die hemel en vir haar drankoffers uit te giet.” Gaan voort en bevestig julle geloftes; sekerlik, hou julle geloftes!’

Lees volledige hoofstuk Yirmeyahu 44