Ou Testament

Nuwe Testament

Y'hoshua 22:5-14 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

5. Wees net baie versigtig om die opdragte en die wet, wat Moshe, die kneg van יהוה, julle beveel het, te onderhou, om יהוה, julle God, lief te hê en in al Sy paaie te loop en Sy opdragte te onderhou en aan Hom vas te hou en Hom te dien met julle hele verstand, wil en emosie en met julle hele gees.”

6. So het Y’hoshua hulle geseën en hulle weggestuur en hulle het na hul tente toe gegaan.

7. Aan die een helfte van die stam van M’nasheh het Moshe in Bashan ’n erfenis gegee, maar aan die ander helfte daarvan het Y’hoshua ’n deel gegee saam met hulle broers, weswaarts anderkant die Yarden. Toe Y’hoshua hulle weggestuur het na hul tente toe, het hy hulle geseën

8. en vir hulle gesê: “Gaan terug na julle tente met groot rykdomme en ’n menigte van vee, met silwer, goud, koper, yster en baie klere; deel die buit van julle vyande met julle broers.”

9. Die seuns van Re’uven, die seuns van Gad en die halwe stam van M’nasheh het teruggegaan huis toe en weggetrek van die seuns van Yisra’el af, by Shiloh wat in die land Kena’an lê, om na die land Gil’ad te gaan, na die land van hulle besitting wat hulle in besit geneem het, volgens die bevel van יהוה, deur Moshe.

10. Toe hulle kom by die streek van die Yarden, wat in die land Kena’an lê, het die seuns van Re’uven, die seuns van Gad en die halwe stam van M’nasheh daar ’n altaar gebou by die Yarden, ’n altaar groot van aansien.

11. Die seuns van Yisra’el het gehoor dat dit gesê word: “Let op, die seuns van Re’uven, die seuns van Gad en die halwe stam van M’nasheh het ’n altaar gebou op die grens van die land Kena’an, in die streek van die Yarden, aan die kant wat behoort aan die seuns van Yisra’el.”

12. Toe die seuns van Yisra’el dit hoor, het die hele vergadering van die seuns van Yisra’el bymekaargekom in Shiloh om teen hulle op te trek in oorlog.

13. Toe het die seuns van Yisra’el vir Pingas, die seun van El’azar, die priester, na die seuns van Re’uven, die seuns van Gad en die halwe stam van M’nasheh, in die land van Gil’ad gestuur

14. en tien leiers saam met hom, een leier vir elke vader se familie, van elkeen van die stamme van Yisra’el en hulle was elkeen die familiehoof van die stamme van Yisra’el.

Lees volledige hoofstuk Y'hoshua 22