Ou Testament

Nuwe Testament

Negemyah 13:13-26 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

13. Ek het Shelemyah, die priester, Tzadok, die skrywer en P’dayah, uit die Leviete, oor die skatkamers aangestel en saam met hulle: Hanan, die seun van Zakur, die seun van Mattanyah omdat hulle getrou geag is en hulle is deur die lot verkies om leiers te wees oor hulle broers.

14. Onthou my, my God, aangaande hierdie en moenie my goeie dade wat ek vir die huis van my God en sy instellings gedoen het, uitwis nie.

15. In daardie dae het ek in Y’hudah hoofpaaie vol verkeer gesien op die Shabbat en mense wat donkies met vragte gelaai bring, asook vragte van wyn, druiwe, vye en allerhande vragte goed wat hulle op die Shabbat in Yerushalayim inbring. Ek het teen hulle getuig dat hulle nie voorsiening mag verkoop nie

16. en ook nie vis mag bring of aan die seuns van Y’hudah of in Yerushalayim op die Shabbat mag verkoop nie.

17. Ek het met die leiers van Y’hudah geargumenteer en vir hulle gesê: “Waarom doen julle hierdie bose ding en onteer die Shabbatdag?

18. Julle vaders het net so gehandel en God het al hierdie ongeluk op ons en hierdie stad gebring, tog bring julle meer toorn en woede op Yisra’el deur die Shabbat te onteer!”

19. Wanneer die poorte van Yerushalayim voor die Shabbat oop was, het ek beveel dat die poorte gesluit moes word en beveel dat hulle nie oopgemaak sal word tot ná die Shabbat nie. Ek het sommige van my diensknegte by die poort geplaas sodat daar geen vrag op die Shabbat ingebring sal word nie.

20. Die handelaars en die verkopers van allerhande soorte handelsware, het een of twee keer buite Yerushalayim geslaap.

21. Toe het ek teen hulle getuig en vir hulle gesê: “Waarom kom julle nie in by die poort in die muur terwyl die son nog hoog is nie? As julle weier om hierdie opdrag uit te voer sal ek julle straf.” Van daardie dag af aan het hulle nie meer op die Shabbat ingekom nie.

22. Ek het aan die Leviete opdrag gegee om hulleself te reinig en dat die wagte en die poortwagters moet kom om die poorte op te pas om die Shabbat af te sonder. O my God, onthou my ook hieroor en spaar my as gevolg van die oorvloed van U onverdiende guns.

23. In dié dae het ek ook Y’hudahiete gesien wat vroue van Ashdod, `Ammon en Mo’av getrou het

24. en hulle seuns het half in die taal van Ashdod gepraat en in die ander helfte kon hulle nie verstaanbaar in die taal van Y’hudah praat nie, maar volgens die taal van elke volk.

25. Ek het met hulle geargumenteer en hulle vervloek en sommige van hulle geslaan en hulle hare uitgepluk en ander by God laat sweer en gesê: “Julle mag nie julle dogters aan hulle seuns gee en julle mag nie van hulle dogters vir julle seuns of vir julleself vat nie!2 Kon 23:13

26. Shlomo, die koning van Yisra’el, het deur hierdie dinge gesondig. Tog was daar onder baie nasies nie ’n koning soos hy nie, waarvoor sy God lief was en God het hom koning oor die hele Yisra’el gemaak. Nogtans het vreemde vroue selfs vir hom laat sondig

Lees volledige hoofstuk Negemyah 13