hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Sh'mu'el 13 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Avshalom, die seun van Dawid, het ’n mooi suster gehad met die naam van Tamar en dit was hierna dat Amnon, die seun van Dawid, haar liefgehad het.

2. Amnon was so gefrustreerd oor sy suster Tamar dat hy homself siek gemaak het, want sy was ’n maagd en dit was in Amnon se oë moeilik om iets aan haar te doen,

3. maar Amnon het ’n vriend gehad, met die naam van Yonadav, die seun van Dawid se broer Shim’ah en Yonadav was ’n baie skerpsinnige man.

4. Hy vra vir hom: “O, seun van die koning, waarom lyk jy so bedruk, oggend na oggend? Sal jy my nie vertel nie?” Toe sê Amnon vir hom: “Ek is lief vir Tamar, die suster van my broer Avshalom.”

5. Toe sê Yonadav vir hom: “Lê op jou bed en maak of jy siek is. Wanneer jou vader kom om jou te sien, moet jy vir hom sê: ‘Laat my suster Tamar asseblief kom en vir my iets gee om te eet en die ete voor my oë voorberei dat ek dit kan sien en uit haar hand uit eet.’”

6. Amnon het gaan lê en gemaak of hy siek is. Toe die koning kom om hom te sien, sê Amnon vir die koning: “Laat my suster Tamar asseblief kom en ’n paar koeke voor my oë maak dat ek uit haar hand kan eet.”

7. Toe het Dawid na Tamar se huis gestuur en gesê: “Gaan nou na die huis van jou broer Amnon en berei vir hom ete voor.”

8. Tamar gaan toe na die huis van haar broer Amnon en hy het gelê en sy het deeg gevat, dit geknie en koeke voor sy oë gemaak en die koeke gebak.

9. Sy het die pan gevat en dit voor hom uitgegooi, maar hy het geweier om te eet. Amnon het gesê: “Laat almal uitgaan van my af!” Almal het van hom af uitgegaan.

10. Toe sê Amnon vir Tamar: “Bring die kos in die slaapkamer dat ek uit jou hand kan eet.” Tamar het die koeke wat sy gemaak het, gevat en vir haar broer Amnon in die slaapkamer gebring.

11. Toe sy dit na hom toe bring om te eet, het hy haar gegryp en vir haar gesê: “Kom lê by my, my suster!”

12. Sy antwoord hom egter: “Nee, my broer, onteer my nie, want so iets word nie in Yisra’el gedoen nie; moenie so ’n skandelike ding doen nie.

13. Wat van my? Waar sou ék van my skande ontslae raak? Wat van jou? Jy sal wees soos een van die dwase in Yisra’el. Praat daarom asseblief met die koning, want hy sal my nie van jou terughou nie.”

14. Hy wou egter nie na haar luister nie en aangesien hy sterker was as sy, het hy haar onteer en by haar gelê.

15. Toe het Amnon haar gehaat met ’n baie groot haat, want die haat waarmee hy haar gehaat het, was groter as die liefde waarmee hy haar liefgehad het. Amnon sê vir haar: “Staan op, gaan weg!”

16. Sy sê egter vir hom: “Nee, want die verkeerde om my weg te stuur, is groter as die ander wat jy aan my gedoen het.” Tog wou hy nie na haar luister nie.

17. Toe roep hy die jongman wat hom bedien en sê: “Gooi hierdie vrou uit my teenwoordigheid uit en sluit die deur agter haar toe.”

18. Sy het ’n rok met lang moue aangehad, want so het die maagdelike dogters van die koning aangetrek. Toe het sy bediende haar buitentoe gevat en die deur agter haar toegesluit.

19. Tamar het as op haar kop gesit en haar rok met lang moue aan haar geskeur en sy het haar hand op haar kop gesit en al huilende weggegaan.

20. Toe het Avshalom, haar broer, vir haar gesê: “Was jou broer Amnon by jou? Swyg egter nou, my suster! Hy is jou broer, sit jou hart nie op hierdie saak nie.” So het Tamar as ’n verlatene in die huis van haar broer Avshalom gebly.

21. Toe koning Dawid van al hierdie dinge hoor, was hy baie kwaad,

22. maar Avshalom het nie met Amnon kwaad of goed gepraat nie, want Avshalom het Amnon gehaat omdat hy sy suster Tamar onteer het.

23. Dit het gebeur na twee volle jare dat Avshalom skaapskeerders gehad het in Ba’al-Hatzor wat naby Efrayim is en Avshalom het al die koning se seuns genooi.

24. Avshalom het by die koning gekom en gesê: “Let op, u dienskneg het skaapskeerders. Laat die koning en sy diensknegte asseblief saam met u dienskneg gaan.”

25. Die koning sê egter vir Avshalom: “Nee, my seun, ons moenie almal gaan nie, want ons sal lastig wees vir jou.” Alhoewel hy by hom aangehou het, wou hy nie gaan nie, maar het hom geseën.

26. Toe sê Avshalom: “So nie, laat my broer Amnon saam met ons gaan.” Die koning sê vir hom: “Waarom moet hy saam met jou gaan?”

27. Toe Avshalom egter by hom aanhou, het hy Amnon en al die seuns van die koning saam met hom laat gaan.

28. Avshalom het sy diensknegte beveel en gesê: “Kyk nou, wanneer Amnon se binneste vrolik is met wyn en wanneer ek vir julle sê: ‘Slaan Amnon dood,’ dan moet julle hom doodmaak. Moenie bang wees nie; het ékself julle nie beveel nie? Wees vol moed en dapper.”

29. Die diensknegte van Avshalom het met Amnon gedoen net soos Avshalom beveel het. Toe het al die seuns van die koning opgestaan en elkeen het op sy muil geklim en gevlug.

30. Nou dit was terwyl hulle op pad was dat die verslag by Dawid uitgekom het wat sê: “Avshalom het al die seuns van die koning doodgeslaan en nie een van hulle is oor nie.”

31. Toe staan die koning op, skeur sy klere en gaan lê op die grond en al sy diensknegte het bygestaan met geskeurde klere.

32. Yonadav, die seun van Dawid se broer, Shim’ah, het geantwoord: “My meester moenie dink dat hulle al die jongmanne, die seuns van die koning, doodgemaak het nie, want Amnon alleen is dood omdat dit in Avshalom se beplanning bepaal is sedert die dag wat hy sy suster Tamar onteer het;

33. daarom nou, my meester die koning moenie die verslag ‘al die koning se seuns is dood,’ ernstig opneem nie, want net Amnon is dood.

34. Avshalom het gevlug. Die jongman wat op wag was, lig sy oë op en kyk en let op, baie mense kom van die pad agter hom af, aan die kant van die berg.

35. Yonadav sê vir die koning: “Let op, die seuns van die koning het gekom; volgens die woord van u dienskneg, so het dit gebeur.”

36. Net toe hy klaar gepraat het, let op, kom die seuns van die koning en verhef hulle stemme en huil en ook die koning en al sy diensknegte het hard gehuil.2 Sh’m 3:3 Dawid het elke dag oor sy seun gerou.

37. Avshalom het gevlug en na Talmai, die seun van `Ammihud, die koning van G’shur, gegaan.

38. Avshalom het gevlug en na G’shur gegaan en was drie jaar lank daar.

39. Koning Dawid het verlang om na Avshalom uit te gaan, want hy was getroos aangaande Amnon, aangesien hy dood is.