Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 20:31-43 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

31. Sy diensknegte sê vir hom: “Let op, ons het gehoor dat die konings van die huis van Yisra’el genadige konings is; laat ons asseblief rouklere om ons heupe bind en toue om ons koppe en uitgaan na die koning van Yisra’el; miskien sal hy u lewe spaar.”

32. Hulle het rouklere om hul heupe vasgebind en toue om hul koppe en na die koning van Yisra’el gekom en gesê: “U dienskneg Ben-Hadad sê: ‘Laat my asseblief lewe!’” Hy antwoord: “Lewe hy dan nog? Hy is my broer.”

33. Die manne het dit as ’n voorteken gevat en sy woord opgevang en gesê: “Ben-Hadad, u broer!” Toe sê hy: “Gaan, bring hom.” Ben-Hadad het uitgekom na hom toe en hy het hom op die strydwa laat klim.

34. Ben-Hadad sê vir hom: “Die stede wat my vader van u vader afgeneem het, sal ek teruggee en u kan vir u strate aanlê in Dammesek soos my vader in Shomron aangelê het.” Ag’av het gesê: “Ek sal u met hierdie verbond laat gaan.” Hy het met hom ’n verbond aangegaan en hom laat gaan.

35. ’n Sekere man uit die profete-seuns het deur die woord van יהוה vir ’n ander gesê: “Slaan my asseblief!” Die man het egter geweier om hom te slaan.

36. Toe sê hy vir hom: “Omdat jy nie na die stem van יהוה geluister het nie, let op, sodra jy van my af weggaan, sal ’n leeu jou doodmaak.” Toe hy van hom af weggaan, het ’n leeu hom gekry en hom doodgemaak.

37. Toe het hy ’n ander man gekry en gesê: “Slaan my asseblief!” Die man het hom geslaan en hom beseer.

38. Toe vertrek die profeet en wag vir die koning op die pad en vermom homself met ’n verband oor sy oë.

39. Soos die koning verbygaan, roep hy uit na die koning en sê: “U dienskneg het uitgegaan in die middel van die geveg en let op, daar kom iemand eenkant toe en bring ’n man na my toe en sê: ‘Bewaak hierdie man; as hy vir enige rede wegraak, sal jou lewe in die plek van sy lewe wees, of anders moet jy ’n talent silwer betaal.’

40. Terwyl u dienskneg hier en daar besig was, het hy verdwyn. Die koning van Yisra’el sê vir hom: “So sal jou vonnis wees: jy het dit self bepaal.”

41. Toe vat hy gou die verband van sy oë af en die koning van Yisra’el herken hom as een van die profete.

42. Hy sê vir hom: “So sê יהוה: ‘Omdat jy die man wat Ek tot vernietiging bedoel het, uit jou hand laat gaan het, sal jou lewe in die plek van sy lewe wees en jou mense in die plek van sy mense.”

43. Die koning van Yisra’el het na sy huis toe gegaan, stuurs en vererg en by Shomron gekom.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 20