Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 20:19-36 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

19. So het hulle, die jongmanne van die heersers van die provinsies, uit die stad uitgegaan en die leër wat hulle volg.

20. Hulle het elkeen sy man doodgemaak en die Arameërs het gevlug en Yisra’el het hulle agtervolg en Ben-Hadad, koning van Aram, het ontsnap op ’n perd saam met perderuiters.

21. Die koning van Yisra’el het uitgegaan en perde en strydwaens neergeslaan en die Arameërs doodgemaak in ’n groot slagting.

22. Toe kom die profeet na die koning van Yisra’el en sê vir hom: “Gaan, versterk uself en ondersoek en kyk wat u moet doen, want met die draai van die jaar sal die koning van Aram teen u opkom.”

23. Die diensknegte van die koning van Aram het vir hom gesê: “Hulle gode is gode van die berge; daarom was hulle sterker as ons, maar laat ons eerder teen hulle baklei op die vlakte en ons sal sekerlik sterker wees as hulle.

24. Doen daarom dit: verwyder die konings, elkeen uit sy plek en sit bevelvoerders in hulle plek

25. en maak ’n leër bymekaar soos die leër wat u verloor het, perd vir perd, strydwa vir strydwa. Dan sal ons teen hulle in die vlakte veg en ons sal sekerlik sterker wees as hulle.” Hy het na hulle stem geluister en so gedoen.

26. Met die draai van die jaar het Ben-Hadad die Arameërs bymekaar gebring en opgegaan na Afek om teen Yisra’el te veg.

27. Die seuns van Yisra’el was saamgetrek, van lewensmiddele voorsien en het gegaan om hulle te ontmoet en die seuns van Yisra’el het teenoor hulle gekamp soos twee troppies bokke, maar die Arameërs het die land gevul.

28. Toe kom ’n man van God nader en praat met die koning van Yisra’el en sê: “So sê יהוה: ‘Omdat die Arameërs gesê het: "יהוה is ’n god van die berge, maar Hy is nie ’n god van die valleie nie,”’ sal Ek hierdie hele groot menigte in jou hand gee en jy sal weet dat Ek יהוה is.”

29. Hulle het vir sewe dae lank teenoor mekaar gekamp en op die sewende dag het die geveg begin en die seuns van Yisra’el het ’n honderd duisend voetgangers van die Arameërs op een dag verslaan,

30. maar die res het na Afek, in die stad in gevlug en die muur het op sewe en twintig duisend man wat oor was geval. Ben-Hadad het gevlug en in die stad, in ’n binnekamer gekom.

31. Sy diensknegte sê vir hom: “Let op, ons het gehoor dat die konings van die huis van Yisra’el genadige konings is; laat ons asseblief rouklere om ons heupe bind en toue om ons koppe en uitgaan na die koning van Yisra’el; miskien sal hy u lewe spaar.”

32. Hulle het rouklere om hul heupe vasgebind en toue om hul koppe en na die koning van Yisra’el gekom en gesê: “U dienskneg Ben-Hadad sê: ‘Laat my asseblief lewe!’” Hy antwoord: “Lewe hy dan nog? Hy is my broer.”

33. Die manne het dit as ’n voorteken gevat en sy woord opgevang en gesê: “Ben-Hadad, u broer!” Toe sê hy: “Gaan, bring hom.” Ben-Hadad het uitgekom na hom toe en hy het hom op die strydwa laat klim.

34. Ben-Hadad sê vir hom: “Die stede wat my vader van u vader afgeneem het, sal ek teruggee en u kan vir u strate aanlê in Dammesek soos my vader in Shomron aangelê het.” Ag’av het gesê: “Ek sal u met hierdie verbond laat gaan.” Hy het met hom ’n verbond aangegaan en hom laat gaan.

35. ’n Sekere man uit die profete-seuns het deur die woord van יהוה vir ’n ander gesê: “Slaan my asseblief!” Die man het egter geweier om hom te slaan.

36. Toe sê hy vir hom: “Omdat jy nie na die stem van יהוה geluister het nie, let op, sodra jy van my af weggaan, sal ’n leeu jou doodmaak.” Toe hy van hom af weggaan, het ’n leeu hom gekry en hom doodgemaak.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 20