Ou Testament

Nuwe Testament

Sefanja 3:9-20 Die Boodskap (DB)

9. Die Here sê dat wanneer die tyd reg is, Hy die volke se gesindhede sal verander sodat hulle nie langer tot ander gode bid nie, maar Hom almal saam sal aanbid.

10. Met die verloop van tyd het mense verspreid geraak en anderkant die riviere van Etiopië geland. In die tye wat kom, sal hierdie mense wat die Here nog dien, offers aan Hom bring.

11. Die Here sê verder dat sy volk in die tyd wat kom, nie langer skaam sal hoef te kry oor alles wat hulle gedoen het toe hulle opstandig teen Hom was nie. Hy gaan ontslae raak van almal wat hoogmoedig en arrogant is. Daar sal nie langer plek wees vir mense wat te veel van hulleself dink as hulle Hom in die tempel kom aanbid nie.

12. In Israel sal die Here net gewone mense wat nederig is en Hom vertrou, laat oorbly.

13. Hulle sal mense wees wat nie ander kul en kwaad aandoen nie. Hulle sal ook mense wees wat nie leuens vertel en ander bedrieg nie. Hulle sal veilig en rustig lewe en sal vir niemand bang wees nie.

14. Die mense van Israel moet hulle blydskap wys deur te sing en te juig. Elkeen se hart moet oorloop van blydskap en vreugde.

15. Die Here sal hulle nie langer straf nie. Hy jaag ook al hulle vyande weg. Die Here is die koning van Israel en Hy bly by hulle. Hulle hoef daarom vir niks meer bang te wees nie.

16. Die tyd het gekom dat Jerusalem se mense nie langer bang of moedeloos hoef te wees nie,

17. want die Here is by hulle. Die Here is soos ’n held wat hulle kom red en hulle wenners maak. As Hy aan hulle dink, raak Hy baie opgewonde en bly. Sy liefde vir hulle maak Hom rustig en laat Hom tevrede voel. Hy sal sommer soos wat hulle by ’n fees maak, hardop sing om te wys dat hulle Hom bly maak.

18. Die Here sê dat Hy al die rampe sal wegvat wat vir hulle swaarkry en hartseer gebring het.

19. Binnekort sal Hy al die mense straf wat Israel se vryheid gesteel het. Die Here sal die hulpelose mense en dié wat uitgestoot is uit die samelewing help. Verder sal Hy ook hulle naam in ere herstel sodat hulle nie meer skaam hoef te wees nie. Die wêreld sal met nuwe oë na hulle kyk en hulle respekteer.

20. Wanneer die tyd kom waarvoor hulle wag, sal die Here sy mense van oral af bymekaarmaak en hulle huis toe bring na hulle land toe. Hy sal sorg dat al die volke van die wêreld hulle ag en met respek behandel. Israel sal self beleef hoe hulle omstandighede vir hulle positief verander en hoe dit weer met hulle goed gaan. Die Here het gesê Hy sal sorg dat dit gebeur!

Lees volledige hoofstuk Sefanja 3