Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 6:7-19 Die Boodskap (DB)

7. Die dienaar sal daarmee sy skuld by die Here betaal. Alles wat hy verkeerd gedoen het en waardeur hy skuldig geword het, sal hom dan vergewe word.”

8-9. Die Here het verder ook nog vir Moses beveel om aan Aäron en sy seuns voorskrifte te gee vir die offers wat verbrand moet word: “Dit moet heelnag in die vuur op die altaar gelos word tot die volgende oggend toe. Die vuur op die altaar moet die heeltyd bly brand.

10. Die amptenaar by die tent trek sy spesiale linnehemp en linnebroek wat daarby pas, aan. Hy vat dan die vet weg wat in die vuur uit die brandoffer uitgebraai het. Hy sit dit langs die offerplek op die grond neer.

11. Dan trek hy die spesiale klere uit en trek weer sy gewone klere aan. Hy vat die vet uit die kamp uit weg na die plek wat daarvoor eenkant gesit is buite die kamp.

12. Die vuur moet altyd op die altaar aan die brand bly. Dit mag nooit doodgaan nie. Die dienaar moet elke oggend weer nuwe hout op die vuur gooi om dit aan die brand te hou. Hy moet die offer wat verbrand word om sy verhouding met die Here te herstel bo-op die hout sit en die vet van die offer daarop uitbraai.

13. Die vuur moet altyd aan die brand bly daar op die altaar. Dit mag nooit doodgaan nie.”

14. Die aanwysings vir die graan wat vir die Here gebring word, is soos volg: “Aäron se seuns wat by die tent werk, bring die graan na die offerplek toe daar voor die Here.

15. Die werker by die tent van ontmoeting vat ’n hand vol van die gemaalde graan saam met die olie en die geurige wierookstokkies wat daarop is. Hy verbrand alles op die altaar as die deel wat die hele offer verteenwoordig. Dit is ’n offer waarvan die Here baie hou.

16. Die deel van die offer wat dan oorbly, mag Aäron en sy seuns eet. Daar mag nie enige suurdeeg daarby kom nie. Dit word geëet daar by die voorhof van die tent waar die Here sy volk ontmoet.

17. Ook wanneer dit gebak word, mag daar nie suurdeeg bykom nie. Die Here staan hierdie deel van die offer aan die dienaars by die tent af as hulle deel van die offers. Dit is net so volledig uitgesonder vir die Here se diens soos die offers wat vir die sonde gebring word en die offers wat na die tent van die Here gebring word om vir die skuld voor God te betaal.

18. Al die mans uit Aäron se familie wat by die tent werk, mag daarvan eet. Dit is ’n reël oor die offers wat vir die Here met vuur verbrand word wat nooit mag verander oor al die geslagte wat kom en gaan nie. Elke persoon wat van hierdie offers eet, moet aan die diens van die Here toegewy wees.”

19. Die Here het verder ook vir Moses gesê:

Lees volledige hoofstuk Levitikus 6