Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 19:11-27-28 Die Boodskap (DB)

11. “Julle moenie mekaar se goed steel nie. Julle moet ook nie mekaar belieg en bedrieg nie.

12. Julle moet ook nie my Naam gebruik en dan ’n vals belofte aflê nie. Julle maak dan die Naam van julle God belaglik. Ek is tog die Here.

13. Moenie jou medemens uitbuit en by hom steel nie. Betaal die tydelike werker wat jy hom skuld. Moenie dit terughou nie.

14. Uit respek vir jou God mag jy nie ’n dowe persoon met minagting behandel nie. Jy moet ook nie iets in die pad van ’n blinde mens sit sodat hy daaroor val nie. Ek is die Here.

15. Wees regverdig wanneer jy besluite moet maak. Moenie kant kies vir iemand omdat hy arm is of omdat hy belangrik is nie. Jy moet jou medemens regverdig behandel.

16. Moenie loop en kwaadpraat oor ander nie. Moenie jou naaste se lewe bedreig nie. Ek is die Here.

17. Moenie met ’n wrok in jou hart teen ’n ander rondloop nie. Praat die saak met hom uit sodat jy nie oor hom begin verkeerd doen nie.

18. Moenie loop en kyk hoe jy iemand kan terugkry nie. Moenie met ’n grief rondloop teen een van jou volksgenote nie. Jy moet net soveel vir ander omgee as wat jy vir jouself omgee. Ek is die Here.”

19. “Julle moet by my reëls hou. Moenie verskillende soorte diere met mekaar paar nie. Julle moet ook nie verskillende soorte saad in dieselfde land saai nie. Julle moet ook nie klere dra wat van verskillende soorte materiaal gemaak is nie.

20. Iemand anders se werker kan aan ’n ander man beloof wees. As iemand by haar slaap terwyl die ander man nog nie vir haar betaal het nie en haar eienaar het haar nog nie laat gaan nie, moet daar slegs vergoeding betaal word. Die twee hoef egter nie doodgemaak te word nie. Sy behoort nog steeds aan die oorspronklike eienaar.

21. Die man wat by haar geslaap het, moet ’n ram vir sy skuld by die ingang van die Here se tent kom offer.

22. Die dienaar by die tent sal die ram slag om vir hom vergifnis by die Here te kry vir die oortreding wat hy begaan het. Hy sal vergewe word vir wat hy aangevang het.

23. “Wanneer julle in die land gaan woon waarheen Ek julle vat en julle vrugtebome daar plant, moet julle vir die eerste drie jaar glad nie die vrugte pluk nie. Hulle is dan soos iemand wat nog nie besny is en nog nie aan my volk behoort nie. Hulle mag nog glad nie geëet word nie.

24. In die vierde jaar moet al die vrugte aan die Here gewy word om vir Hom daarvoor dankie te sê.

25. Van die vyfde jaar af mag julle die vrugte eet. So sal die bome meer vrugte dra. Ek is die Here, julle God.

26. “Moenie deelneem aan seremonies waar daar bloed gedrink word nie. Moenie julle tyd mors met voorspellings en waarsêery nie.

27-28. Julle moet ook nie die hare teen julle slape en die kant van julle baard afskeer en merke in julleself kerf of tatoeëermerke op julle lyf maak soos die heidene wanneer hulle oor die dooies rou nie. Ek is die Here.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 19