Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 16:14-27 Die Boodskap (DB)

14. Hy vat dan die bloed van die bul wat hy geslag het en sprinkel dit sewe keer met sy vinger teen die voorkant van die versoendeksel en op die grond voor die deksel.

15. As hy daarna die bok vir die volk se sonde slag, moet hy ook met daardie bloed agter die gordyn ingaan en daarmee presies dieselfde doen as wat hy met die bul se bloed gedoen het. Hy moet ook daarvan op die grond en teen die deksel spat.

16. Wanneer hy so maak, maak hy die deel agter die gordyn waar die Here is, en sommer ook die hele tent waar hulle die Here ontmoet, los van alles wat Israel verkeerd gedoen het en van al die sonde wat hulle teen die Here gedoen het.

17. Van die oomblik af dat Aäron in die Here se deel agter die gordyn ingegaan het om vir hulle vrede by God te maak totdat hy weer daar uitkom, mag niemand anders in die tent kom waar hulle die Here ontmoet nie.“Nadat hy vir homself, sy gesin en die hele Israel vrede gemaak het met die Here,

18. moet hy weer uitkom na die altaar toe en ook daar kom vrede maak. Hy vat van die bloed van die bul en van die bok en smeer daarvan reg rondom aan die horings van die altaar.

19. Hy moet ook met sy vinger sewe keer van die bloed teen die altaar sprinkel. So maak hy die altaar skoon van al die vuilheid van Israel se sonde en skoon vir die Here.

20. “Sodra Aäron die Here se spesiale deel agter die gordyn, asook die tent waar hulle die Here ontmoet en die altaar aan sy voorkant weer vir die Here afgesonder het, moet hy die bok wat nie geslag is nie, nader bring.

21. Hy sit albei sy hande op die bok se kop. Terwyl sy hande op die bok se kop is, moet hy alles bely wat Israel verkeerd gedoen het. Hy moet sê hoe moedswillig hulle is en hoe dikwels hulle nie doen wat die Here van hulle vra nie. Hy dra al hierdie verkeerde dinge op die bok oor. Iemand wat daar reg staan, moet dan die bok weglei die woestyn in.

22. Die bok dra dan al hulle oortredings weg na ’n plek waar daar nie mense is nie. Die man jaag die bok dan aan om nog dieper die woestyn in te gaan.

23. “Aäron gaan dan weer terug na die tent toe. Hy trek die linneklere uit wat hy aangehad het toe hy in die afgesonderde deel agter die gordyn ingegaan het en los die klere daar.

24. Hy gaan was hom op ’n plek wat daarvoor eenkant gehou word en trek weer sy gewone klere aan. Hy gaan terug en bring offers wat hy op die altaar verbrand namens homself en die volk. Daardeur word hy en die volk vergewe vir hulle sondes en kom daar weer vrede met die Here.

25. Hy sorg dat die diere se vet heeltemal wegbrand op die altaar.

26. “Wanneer die man wat die bok in die woestyn gaan injaag het, terugkom, moet hy eers sy klere en homself gaan was voordat hy weer in die kamp kan ingaan.

27. Die karkasse van die bul en die bok wat vir die sonde geslag is en waarvan die bloed in die afgesonderde deel agter die voorhangsel gebruik is om vrede te bring moet dan uit die kamp weggevat word. Dit moet met vel, vleis, binnegoed en al daar buite die kamp verbrand word.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 16