Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 8:19-30 Die Boodskap (DB)

19. Toe die manskappe wat weggekruip het, dit sien, het hulle vinnig opgespring, die stad ingeneem en dit dadelik aan die brand gesteek.

20. Toe die soldate van Ai terugkyk, het hulle die rook van die stad wat aan die brand was in die lug sien opstyg. Hulle het egter nie ’n kans gehad om êrens heen te ontsnap nie, want die Israeliete wat woestyn toe gehardloop het, het ook nou omgedraai en hulle begin aanval.

21. Toe Josua en sy soldate sien dat die hinderlaag geslaag het en dat die stad aan die brand was, het hulle omgedraai en die soldate van Ai begin aanval.

22. Die oorblywende soldate wat in Ai was, het immers vroeër al uitgekom om die Israeliete te agtervolg. Nou is al die soldate van Ai egter deur die Israeliete omsingel. Hulle is almal doodgemaak. Niemand het ontsnap nie,

23. behalwe die koning van Ai. Hy is gevang en na Josua toe geneem.

24. Die Israeliete het elke soldaat wat hulle na die woestyn toe agtervolg het net daar doodgemaak. Daarna is hulle terug Ai toe om seker te maak dat almal daar ook dood is.

25-26. Josua het nie sy swaard wat hy in die rigting van Ai uitgesteek het, laat sak voordat al die inwoners daarvan vernietig is nie. Die hele bevolking van Ai, altesaam 12 000 mense, is op daardie dag uitgeroei.

27. Al wat die Israeliete vir hulleself gehou het, was die diere en die oorlogsbuit, soos die Here vir Josua beveel het.

28. Josua het Ai afgebrand en dit vir altyd as ’n verlate ruïne agtergelaat.

29. Die koning van Ai het hy aan ’n boom opgehang en hom daar laat hang tot die aand toe. Met sonsondergang het hy sy soldate opdrag gegee om die liggaam te verwyder. Hulle het dit afgehaal en voor Ai se hekke neergegooi. Toe het hulle dit met klippe toegepak om almal te herinner aan wat daar gebeur het. Dis vandag nog daar.

30. Hierna het Josua op die berg Ebal ’n altaar gebou vir die Here, die God van Israel.

Lees volledige hoofstuk Josua 8