Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 8:10-22 Die Boodskap (DB)

10. Ek sal hulle vroue en hulle plase vir ander mense gee. Almal van hulle, of hulle nou klein of groot is, wil ryk word, al is dit nou ook deur ’n ander mens te bedrieg. Selfs die sogenaamde profete van die Here en die godsdienstige leiers doen oneerlike dinge.

11. Hulle gee sommer goedkoop oplossings vir die probleme van my volk. Hulle maak of alles reg is as hulle sê ‘vrede, vrede’ terwyl dit allesbehalwe rustig en vreedsaam gaan.

12. Is hulle miskien skaam oor al die afstootlike goed wat hulle doen? Nee, hulle bloos nie eens nie. Hulle het nie ’n idee wat dit is om skaam te wees nie. Hulle sal ondergaan soos ander mense voor hulle ondergegaan het. Wanneer Ek hulle straf, sal dit klaarpraat wees met hulle,” sê die Here.

13. Die Here het ook gesê: “Juda was soos ’n boord wat geen vrugte dra nie. Nutteloos! Hulle lewer niks goeds op nie. Hulle is soos ’n wingerd sonder druiwe of soos ’n vyeboom sonder vye. Selfs die blare is verdroog. Daarom sal hulle al die goeie dinge verloor wat Ek vir hulle gegee het.”

14. Die volk van die Here vra: “Hoekom sal ons hier op ’n hoop sit en doodgaan? Party van die stede is sterker gebou om mense in oorlogtye teen die vyand te beskerm. Kom ons gaan in hierdie stede in, want dan gaan ons ten minste dood terwyl ons probeer het om terug te baklei. Die Here ons God het reeds besluit dat ons moet doodgaan. Die Here wou hê dat ons aan Hom lojaal moes wees, maar ons was nie. Ons het die toets vir lojaliteit gedruip en daarom sal ons sterf.

15. Ons het gehoop vir ’n tyd van vrede, maar daar het niks van gekom nie. In plaas van ’n tyd waarin ons gehoop het dat dinge vir ons sou regkom, het iets skrikwekkends met ons gebeur.

16. Ons kon alreeds uit Dan, wat op die noordelike grens is, die gerunnik van die vyand se perde hoor. Al die mense van die land het begin bewe toe hulle besef dat die vyand se leër op pad is. Die vyand se plan was om ons land en alles wat daarop is te kom verwoes. Ook elke stad van ons en die mense wat daarin bly.”

17. Die Here sê: “Ek stuur die vyand se soldate soos giftige slange tussen julle in. Julle kan hulle nie betower nie. Net mooi niks wat julle ook al probeer doen om dit te keer, sal help nie. Die slange sal julle pik en julle sal doodgaan.”

18. Jeremia sê: “My hartseer oorweldig my. Ek is siek van ontsteltenis.

19. Hoor die benoude geroep van my mense. Dit weerklink deur die hele land: ‘Is die Here nie meer in Jerusalem nie? Is die koning ook nie meer in die stad nie?’” Hierop antwoord die Here: “Waarom buig hulle voor nuttelose afgode wat met die hand gemaak is? Hulle maak My sommer baie kwaad!”

20. Die mense kla: “Ons het klaar geoes en die somer is al verby, maar ons is nog nie vrygemaak nie.”

21. Jeremia sê: “My mense is gewond en voel baie pyn. Hulle pyn voel vir my asof dit my eie pyn is. Ek huil oor hulle. Ek voel so platgeslaan oor hulle toestand.

22. Is daar nie medisyne in Gilead wat my mense se wonde gesond sal maak nie? Is daar nie ’n dokter wat hulle kan help nie? Hoekom kan iets nie gedoen word om my mense gesond en vry te maak nie?”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 8