Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 7:14-28 Die Boodskap (DB)

14. Silo bestaan nie meer nie, Ek het die plek verwoes. Julle het al julle hoop op my tempel geplaas. Dit gaan julle niks help nie, want Ek gaan my tempel hier in Jerusalem verwoes net soos Ek Silo tot niet gemaak het. Presies dieselfde gaan gebeur met hierdie land wat Ek aan julle en julle voorouers gegee het.

15. Ek gaan toelaat dat ’n vyand julle uit julle land uit wegvat. Dit het met julle familie in die noordelike gebied, Israel, gebeur, nou is dit julle voorland.”

16. Die Here sê: “Moenie meer vir Juda bid nie, Jeremia. Moet ook nie by My kom huil of vir hulle bid nie. Dit sal ook nie help dat jy namens hulle by My kom hulp vra nie. Ek sal nie na jou luister nie.

17. Kan jy nie sien wat hulle in die stede van Juda en in die strate van Jerusalem doen nie?

18. Dit maak My woedend! Die kinders maak hout bymekaar. Die pa’s is besig om vuur te maak. Die vroue knie deeg en bak koeke vir die afgod wat hulle die koningin van die hemel noem. Vir hulle ander afgode bring hulle drank om hulle te plesier.

19. Ek wil vra: Wat dink hulle, dat Ek nou eintlik die een is wat gaan seerkry? Nee, hulle trek aan die kortste end. Hulle veroorsaak hulle eie seerkry en vernedering.”

20. Daarom sê die Here wat die meeste mag van almal het: “Ek sal hierdie land my woede en my straf laat voel. My woede is soos ’n vuur wat nie doodgemaak kan word nie. Dit sal al die mense, diere, bome en die oeste op die land verteer.”

21. Die Here is sterker as alles en almal. Hy is die God van Israel en Hy sê: “Gaan aan, bring nog meer offers wat verbrand word saam met julle ander offers. Ja, en eet self die vleis.

22. Toe Ek julle voorouers uit Egipte gelei het, was dit nie allerhande offers wat Ek van hulle verwag het nie.

23. Wat Ek van hulle verwag het, was bloot die volgende: Wees aan My gehoorsaam en Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees. As julle doen wat Ek sê, sal dit met julle goed gaan.

24. Maar my volk het nie na My geluister nie en hulle nie aan My gesteur nie. Hulle het gemaak soos hulle wou. Hulle het hulle eie kop gevolg en verkeerd gedoen. Op die ou einde het dit net al hoe slegter met hulle gegaan.

25. Vandat jou voorouers uit Egipte getrek het tot vandag toe, het Ek gereeld boodskappers wat in my diens is, na hulle gestuur.

26. Maar my volk wou nie na My luister nie. Hulle het hulle glad nie aan My gesteur nie. Hulle het net meer teen My in opstand gekom. Hulle was nog erger as hulle voorouers.

27. Al sê jy al hierdie dinge vir hulle, sal hulle nie na jou luister nie. Selfs al waarsku jy hulle baie ernstig, sal hulle jou ignoreer.

28. Sê vir hulle: Julle is die volk wat nie na die Here julle God wou luister nie. Julle laat julle ook nie leer nie. Hulle ken nie meer iets soos waarheid nie. Dit is nie iets wat oor hulle lippe kom nie.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 7