Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 44:18-26 Die Boodskap (DB)

18. Maar vandat ons opgehou het om vir die koningin van die hemel wierook te brand en drank uit te gooi as ’n offer aan haar, gaan dit sleg met ons. Ons het niks. Ons mense gaan dood in oorloë en van honger omdat daar nie kos is nie.”

19. Die vroue het verder ook vir Jeremia gesê: “Dit is so, ons het wierook vir die koningin van die hemel gebrand en drank ter wille van haar uitgegooi as ’n offer. Ons het selfs koekies gebak wat haar vorm het. Maar dink jy dat toe ons dit gedoen het ons mans nie deel daarvan was nie?”

20. Toe hulle klaar gepraat het, het Jeremia al die mans en die vroue geantwoord:

21. “Dink julle die Here het nie geweet wat julle in die stede van Juda en in die strate van Jerusalem gedoen het nie? Natuurlik het Hy geweet dat julle en julle voorouers, julle konings en leiers en al die ander mense wierook gebrand het vir die afgode.

22. Die Here kon dit nie langer uitstaan dat julle hierdie slegte dinge doen nie; daarom het Hy julle soos ’n vloekwoord gemaak. Dit is ook hoekom julle land vandag ’n hoop bourommel is. Dit is ’n verlate plek, sonder enige mense wat daarin bly.

23. Die Here bring hierdie ellendes oor julle omdat julle wierook gebrand het. Julle het nie gedoen wat die Here van julle verwag nie. Hy het vir julle sekere reëls en riglyne gegee waarvolgens julle moes lewe, maar julle het julle nie daaraan gesteur nie.”

24. Jeremia het vir al die mense, die vroue ingesluit, gesê: “Luister na wat ek van die Here af vir julle wat in Egipte bly, gekry het.

25. Die Here sê: Julle en julle vroue het gesê dat julle nooit sal ophou om die godin van die hemel te vereer nie. Dit is duidelik uit alles wat julle sê en doen. Nou hou dan by julle beloftes aan haar en doen wat julle gesê het julle gaan doen!

26. Ek sê weer, hoor wat is die Here se boodskap vir julle. Hy sê: Ek het ’n eed gesweer en Ek is so ernstig daaroor dat Ek my Naam en reputasie op die spel sit. My Naam sal nooit weer deur enige van die mense van Juda wat in Egipte is, genoem word nie. Julle mag nie my Naam gebruik as julle ’n plegtige belofte maak om krag aan julle woorde te gee nie. Julle mag nooit weer sê: ‘So waar as die Here leef’ nie!

Lees volledige hoofstuk Jeremia 44