Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 42:2-12 Die Boodskap (DB)

2. Hulle het vir Jeremia gevra: “Luister asseblief na wat ons vra en praat dan namens ons met die Here wat jou God is. Soos jy kan sien, is ons maar net ’n klein groepie mense wat oor is van die sterk volk wat ons eens was.

3. Vra die Here jou God mooi om ons te wys wat ons moet doen en waarheen ons moet gaan.”

4. Jeremia het hulle geantwoord en gesê: “Goed, ek hoor wat julle wil hê. Ek sal met die Here wat julle God is, praat oor wat julle graag wil weet. Ek sal dan vir julle sê presies wat sy antwoord vir julle is. Ek sal niks vir julle wegsteek nie.”

5. Hulle het vir Jeremia gesê: “Ons roep die Here self as ’n getuie teen ons as ons nie doen wat Hy vir ons sê om te doen nie. Hy is eerlik en sal die waarheid praat.

6. Of ons nou daarvan hou of nie, ons sal die Here ons God gehoorsaam. Dit was tog ons idee om jou na Hom te stuur om raad te vra. Dit sal goed met ons gaan as ons aan Hom gehoorsaam is en doen wat Hy sê.”

7. Na tien dae het die Here vir Jeremia ’n antwoord gegee.

8. Jeremia het toe vir Joganan en die offisiere en ook die gewone mense laat roep.

9. Hy het vir hulle gesê: “Julle het my na die Here wat die God van Israel is, gestuur om raad te vra. Hier is sy antwoord:

10. Julle moet hier in die land bly. As julle dit doen, sal Ek opbouend met julle werk. Ek sal nie dat dit met julle sleg gaan nie. Soos ’n boom sal Ek julle plant dat julle kan vestig en groei. Ek sal nie met julle maak soos ’n mens met ’n plant maak wat jy wil uitroei nie. So ’n plant trek ’n mens wortel en al uit die grond uit. Ek is jammer oor al die slegte dinge wat julle moes deurgaan.

11. Moenie bang wees vir die koning van Babel nie. Ek sal julle nie in die steek laat nie. Ek is by julle. Ek sal sorg dat hy nie langer oor julle baasspeel nie.

12. Omdat Ek vir julle omgee, sal Ek die koning van Babel se hart sag maak. As dit gebeur, sal hy julle in julle land laat bly.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 42