Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 4:1-9 Die Boodskap (DB)

1. “Israel, as julle besluit om weg te breek van wat julle nou doen, kom dan na My toe terug,” sê die Here. “As julle ontslae raak van die haatlike afgode, hoef julle mos nie meer so sonder rigting te wees nie.

2. As julle ’n plegtige belofte aflê en my Naam daarvoor gebruik, moet julle die waarheid praat. Begin om reg te lewe. Sorg dat mense regverdig behandel word en doen wat reg is. As julle dit kan regkry, sal julle baie vir die nasies van die wêreld beteken. Hulle reaksie daarop sal wees om te kom en My te aanbid.”

3. Dit is wat die Here vir die mense van Juda en Israel te sê het: “Soos ’n mens ’n nuwe land ploeg en voorberei, so moet hulle harte nuut voorberei word. Goeie saad moet nie tussen dorings gesaai word nie.

4. Kom staan voor My, die Here, met ’n hart en gedagtes wat skoon is. As dit nie gebeur nie, sal Ek verskriklik kwaad word. Ek word so kwaad vir al die verkeerde goed wat die mense van Jerusalem doen dat my woede soos ’n vuur brand wat niemand kan doodkry nie.

5. “Maak ’n aankondiging in Juda en Jerusalem en sê: Maak alarm sodat die hele land dit kan hoor! Skree hard en roep almal om bymekaar te kom en te kom wegkruip in die stede wat spesiaal sterk en veilig gemaak is.

6. Stuur ’n sein na Jerusalem toe en waarsku hulle: Moenie wag nie, vlug vir julle lewe! Ek bring ’n groot ramp oor julle. Dit sal uit die noorde na julle toe aankom.

7. Iemand wat nasies vernietig, is op pad na julle toe. Hy maak net soos ’n leeu wat uit sy lêplek opstaan en sy prooi bekruip. Hy sal groot skade aan die land doen en verwoesting in julle stede saai. Daar sal geen mense in die stede meer bly nie.

8. Trek julle begrafnisklere aan en huil uit julle stukkende harte. Die Here is nog verskriklik kwaad vir ons.”

9. Die Here sê: “In daardie tyd sal die koning en die amptenare se moed hulle begewe. Die priesters sal verslae wees en die profete sal verstom staan.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 4