Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 29:15-30 Die Boodskap (DB)

15. Dit is waar dat julle mag sê dat die Here vir julle profete in Babel gegee het,

16. maar hoor ’n bietjie wat die Here te sê het oor die konings wat steeds in die familielyn van koning Dawid is. Die Here het ook die een en ander te sê oor julle mense wat in Jerusalem agtergebly het en nie saam met julle na Babel weggevat is nie.

17. Die Here wat sterker as alles en almal is, sê: “Ek sal veroorsaak dat hulle in oorloë beland. Meer as dit nog, hulle sal ook sukkel om kos in die hande te kry. Om nie eens te praat van die siektes wat hulle sal kry nie. Ek sal hulle soos slegte vye maak, te sleg om te eet.

18. Ek gaan dit vir hulle sommer baie moeilik maak. Waar hulle ook al gaan, sal daar oorloë, kosskaarste en siektes wees. Ek sal hulle oor die hele wêreld laat spat. En daar waar hulle kom sal mense skrik oor wat met hulle gebeur het. Mense sal bang wees om naby hulle te kom omdat iets slegs hulle dalk ook kan tref. Hulle sal ander afstoot en verag word. Ander weer sal met hulle spot en grappe oor hulle maak.

19. Die rede hoekom dit so sal gebeur, is doodeenvoudig dat hulle hulle nie aan My steur nie. Hulle luister nie na My nie. Ek het soveel keer al met hulle gepraat deur my profete wat Ek na hulle gestuur het, maar pure verniet.”

20. Maar nou vra ek julle almal wat uit Jerusalem weggevat is en nou in Babel is, luister na wat die Here sê.

21. Hy is die God van Israel. Hy sê dat Agab, die seun van Kolaja, en Sedekia, die seun van Maäseja, sê dat hulle boodskappe bring wat van die Here af kom. Dit is natuurlik alles leuens. Daarom sê die Here: “Ek sal hulle aan Nebukadnesar oorgee. Hy sal hulle laat doodmaak waar almal dit kan sien.

22. Wat met hierdie twee mense sal gebeur, sal soos ’n spreekwoord word. Elke keer as een van die mense van Juda wat in Babel is, iemand wil verwens, sal hulle sê: ‘Mag die Here met jou laat gebeur wat die koning van Babel met Agab en Sedekia gedoen het. Hy het hulle lewendig verbrand!’

23. Wat hierdie twee sogenaamde profete onder die mense van Israel gedoen het, is vreeslik. Hulle het owerspel gepleeg met ander mans se vroue. En dan het hulle ook nog die vermetelheid om leuens te vertel en voor te gee dat wat hulle sê, van My af kom. Ek het hulle nie gestuur, maar Ek weet wat hulle alles aanvang. Ek sal self teen hulle getuig,” sê die Here.

24. Die Here het ook ’n boodskap vir Semaja gehad. Hy was van Negelam afkomstig.

25. Die Here is sterker as alles en almal. Hy is die God van Israel en Hy sê: “Jy het ’n brief geskryf wat jy self geteken het. Hierdie brief het jy aan die mense gestuur wat in Jerusalem bly. Maar jy het dit ook aan die priester Sefanja, die seun van Maäseja, en ander priesters gestuur. Daarin het jy vir Sefanja geskryf:

26. ‘Die Here het jou in die plek van die priester Jojada aangestel. Jy is nou in beheer van die tempel. Dit sal jou werk wees om toe te sien dat geen mal mens boodskappe namens die Here bring nie. As daar so iemand is, moet jy die persoon in die tronk sit met ’n boei om die nek.

27. Verduidelik nou ’n bietjie, hoekom het jy niks aan Jeremia van Anatot gedoen nie? Hy het sulke boodskappe namens die Here vir jou gegee.

28. Jeremia het vir ons in Babel ’n brief gestuur waarin hy sê dat ons lank hier in die vreemde sal bly. Hy het gesê dat ons huise moet bou om in te bly. Verder moes ons ook tuine maak en eet wat daarin groei.’”

29. Toe die priester Sefanja hierdie brief van Semaja af gekry het, het hy dit vir Jeremia gelees.

30. Die Here het toe vir Jeremia hierdie boodskap gegee:

Lees volledige hoofstuk Jeremia 29