Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 22:14-24 Die Boodskap (DB)

14. Hy sê: ‘Ek sal vir my ’n spoggerige paleis met groot kamers en baie vensters bou. Die vertrekke beslaan ek met sederhout en verf dit rooi.’

15. Die vraag is: Maak dit van jou ’n beter koning as jou paleis mooier is en meer sederhout as ander het? Hoekom was jou pa, Josia, so ’n suksesvolle koning? Dit was omdat hy soos ’n normale mens gelewe het en altyd eerlik en regverdig was.

16. Hy het altyd gesorg dat arm en behoeftige mense regverdig behandel word. Daarom het dit met hom goed gegaan. Deur dinge so te doen het hy gewys hy verstaan wat vir My belangrik is.

17. Maar nie jy nie, Jojakim! Jy wou net altyd kyk wat jy in die hande kan kry om ryk te word. Jy gee nie eens om of dit op ’n oneerlike manier gebeur nie. Jy het onskuldige mense vermoor. Verder het jy mense uitgebuit wat arm is. Ander het jy afgepers.”

18. Daarom sê die Here oor koning Josia se seun Jojakim: “Sy familie sal nie geskok uitroep en oor hom huil nie. Die mense van Juda sal ook nie oor hulle koning treur nie.

19. Hy sal soos ’n donkie begrawe word. Sy lyk sal by Jerusalem uitgesleep word en buite die stad gelos word.”

20. “Huil, want almal op wie jy gereken het om julle te help, is weg. Gaan roep maar na hulle in Libanon. Gaan na Basan en skree hard. Gaan roep na hulle van die berge van Moab af. Dit sal niks help nie, want hulle is almal verpletter.

21. Toe dit met jou goed gegaan het, het Ek jou probeer waarsku, maar jy het geweier om te luister. Van jou kleintyd af al was dit jou houding om nie na My te luister nie.

22. Nou sal al die mense wat jou altyd gehelp het, verdwyn asof die wind hulle weggewaai het. Jou vriende op wie jy gereken het, sal gevang en weggevat word. Jy sal in die skande kom omdat jy so baie verkeerde dinge gedoen het. Ja, jy sal verneder word.

23. Dit mag vir jou baie lekker wees om in ’n paleis te bly wat met sederhout mooigemaak is. Maar dit sal nie lank so aanhou nie. Binnekort sal jy van angs en vrees gil. Dit sal net so voel soos ’n vrou se geboortepyne.”

24. Die Here het vir Jojagin, die seun van koning Jojakim van Juda, gesê: “So seker as wat Ek die lewende God is, Ek sal van jou ontslae raak. Al is jy soos ’n seëlring aan my vinger, Ek sal jou afpluk.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 22