Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 22:1-12 Die Boodskap (DB)

1. Die Here het vir my gesê: “Gaan na die paleis en praat self met die koning van Juda. Sê vir hom:

2. Koning van Juda, u is een van koning Dawid se opvolgers. Die Here het ’n boodskap vir u, u amptenare en die inwoners van Jerusalem. Luister ’n bietjie daarna.

3. Die Here sê: Julle moet eerlik en regverdig optree. Doen wat reg is. Verder moet julle ook mense help wat deur ander bedrieg is. Beskerm hulle teen hierdie bedrieërs. Julle mag ook nie mense wat nie van julle eie mense is nie of weeskinders en weduwees sleg behandel nie. Hou ook op om onskuldige mense te vermoor.

4. As julle gehoorsaam is en nie hierdie verkeerde dinge doen nie, sal daar altyd iemand uit Dawid se nageslag koning in Jerusalem wees. Die konings sal in koetse en op perde deur die paleis se hekke ry. Amptenare en die mense wat hulle help, sal saam met die konings ry.

5. Maar as julle hierdie waarskuwing ignoreer, so waar as wat Ek die Here is, sal hierdie paleis ’n bouval word.”

6. Die Here sê ook oor die paleis: “Gilead is ’n vrugbare plek en die Libanonpieke staan hoog uit. So is die paleis van die koning van Juda vir My. ’n Plek waarop Ek trots is. Maar Ek sal die paleis verwoes en maak soos stede waarin daar geen enkele mens bly nie.

7. Ek sal mense spesiaal aanstel wat sal kom en die plek met hulle gereedskap aftakel. Hulle sal die pragtige sederbalke uitruk en in die vuur gooi.

8. Baie mense van ander nasies sal hier verbygaan en vir mekaar sê: ‘Hoekom het die Here ’n groot stad soos hierdie verwoes?’

9. Dan sal hulle antwoord: ‘Omdat hulle die ooreenkoms tussen hulle en die Here verbreek het. Hy het belowe dat Hy hulle God sou wees en hulle sou sy mense wees wat aan Hom behoort. Maar hulle het voor ander gode gebuig en hulle begin aanbid.’”

10. Moenie hartseer oor koning Josia wees nie. Moet ook nie oor hom huil nie. Huil liewer oor koning Joahas wat deur sy vyand uit sy land uit weggevat is. Hy sal nooit weer terugkom nie. Sy geboorteland sal hy nooit weer sien nie.

11. Eers was koning Josia koning. Hy is toe opgevolg deur sy seun Joahas. Joahas is gevang en uit sy land weggevat na ’n ander land. Die Here sê van hom: “Hy sal nooit weer terugkom nie.

12. Hy sal doodgaan in die land waar hy ’n gevangene is en sal sy geboorteland nie weer sien nie.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 22