hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8

Ou Testament

Nuwe Testament

Hooglied 1 Die Boodskap (DB)

1. Hierdie is die liefdesliedere van Salomo.

Sy

2. Soen my weer en weer, want jou liefde smaak soeter as wyn.

3. Hoe lekker ruik jou reukmiddel en hoe mooi klink jou naam tog nie. Al wat ’n jongmeisie is, is op jou verlief.

4. Vat my, dan hardloop ons weg. Wees vir my soos ’n koning en neem my na jou kamer toe. Saam sal ons gelukkig wees. Ons sal mekaar geniet en onsself in ons liefde verloor. Ek weet waarom al die jongmeisies so gaande oor jou is.

5. Vroue van Jerusalem, ek is donker, maar ook mooi. Donker soos die tente van Kedar en mooi soos die tentseile van Salma.

6. Moenie sleg dink van my omdat ek so bruin is nie. Dit is die son wat my so bruin gebrand het. My broers was kwaad vir my en het my toe in die wingerd laat werk. Ek moes elke dag in die skerp son werk.

7. Sê my, my liefling, waarheen vat jy vandag jou vee? Waar staan julle teen die middaguur? Kom, sê my, dan hoef ek jou nie tussen die ander herders se kuddes te gaan soek nie.

Hy

8. Liefstetjie, weet jy dan nie waar nie? Volg net die trop se spoor tot vlak by die herders se hut. Laat jou bokke daar wei. Daar sal jy my kry.

9. My liefste, jy is so mooi soos ’n jong vul in die koning se wa.

10. Hoe pragtig laat die oorringe jou wange lyk en die juwele jou nek.

11. Ons moet vir jou goue oorringe met sulke silwer puntjies laat maak.

Sy

12. Terwyl die koning van my hart op die bank gelê het, het my parfuum hom bekoor.

13. My liefling is soos ’n sakkie mirre wat ek tussen my borste dra.

14. My liefling is soos die geurige blomme wat wild in En-Gedi se wingerde groei.

Hy

15. Hoe mooi is jy nie, my liefste. Jou oë is so sag en lieftallig soos dié van ’n duif.

Sy

16. Hoe mooi en aantreklik is jy nie, my liefling. Van groen gras is ons bed gemaak.

17. Van seders is ons huisie se plafon en van sipresse die dak.