hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8

Ou Testament

Nuwe Testament

Hooglied 6 Die Boodskap (DB)

Vroue van Jerusalem

1. Jy is die allermooiste van die vroue, maar waar is jou liefling dan? Sê ons, dan help ons jou soek.

Sy

2. Hy is na sy tuin toe waar die lekkerruikkruie groei. Daar wei sy kudde terwyl hy die lelies pluk.

3. My geliefde is myne, net myne. En ek is syne, net syne. Julle sal hom by die lelies vind waar hy sy kudde laat wei.

Hy

4. My liefste, jy is so asemrowend soos Jerusalem, so mooi soos die stad Tirsa en so indrukwekkend soos ’n weermag met swaaiende vaandels.

5. Kyk weg van my, my liefste, want jou oë verkrummel al my weerstand. Jou mooi golwende hare lyk soos bokke wat teen die heuwels van Gilead afhuppel.

6. Jou tande is so wit soos ’n trop skape wat so pas gewas is. Bo en onder pas elke tand op mekaar.

7. Jou wange gloei agter jou sluier soos twee rooi granate.

8. Al is daar 60 vroue, almal koninginne, of 80 byvroue of talle ander jong vroue om my,

9. dan kies ek jóú nog bo almal, my liefste. Jy is jou ma se lieflingskind en die mooiste van alle vroue. Koninginne, byvroue en jongmeisies moet jou skoonheid prys.

10. “Wie is sy?” sal hulle vra. “Sy is so verruklik soos die vroeë oggend, so wondermooi soos die volmaan, so stralend soos die gloeiende middagson en so asemrowend soos soldate wat hulle baniere rondswaai.”

11. Ek is na my tuin toe waar die neutebome staan. Ek wou sien of die palms al blom, die wingerd al uitloop en die granate se bloeisels al bot.

12. En daar het ek na my geliefde verlang soos die drywer van ’n strydwa na ’n oorlog.

Vroue van Jerusalem

13. Kom, nooientjie van Sullam, kom dans hier vir ons. Kom, sodat ons mooi kan kyk hoe jy lyk. Wat is daar te sien aan die Sullamitiese meisie wat tussen die mense deur dans?