Ou Testament

Nuwe Testament

Habakuk 2:1-9 Die Boodskap (DB)

1. Soos ’n wag op sy wagpos sal ek regstaan om te hoor wat die Here vir my te sê het en wat Hy met my klagte gaan maak.

2. So het die Here my geantwoord: Skryf versigtig en duidelik op kleitablette neer wat Ek jou gaan wys sodat enige mens wat dit lees, nie kan wag om dit aan ander mense te vertel nie.

3. Die dinge wat Ek vir jou gewys het en wat jy opgeskryf het, gaan nie nou dadelik gebeur nie. Maar binnekort gaan dit vir seker gebeur. Dit voel dalk vir jou of dinge sloer en of niks aan die gebeur is nie, maar wees geduldig. Jy sal sien, kom sal dit kom en niks en niemand sal dit kan terughou nie.

4. Die vyand is vol van homself, maar sal nie oorleef nie. Maar mense wat die Here met ’n opregte hart dien, sal lewe as hulle aan Hom getrou bly.

5. Maar kyk maar, mense wat baie van hulleself dink, word maklik deur ’n honger na mag verlei. Hulle kry nooit genoeg nie en is nooit tevrede met wat hulle het nie. ’n Mens kry altyd die gevoel dat hulle gulsig is. Hulle hou net altyd aan om ander volke te probeer oorwin en te oorheers.

6. Maar die dag sal kom wanneer hierdie volke wat nou ly, spotliedjies oor die Babiloniërs sal begin sing en hulle belaglik sal maak met spotgedigte. Hulle sal sê: Dit sal nog beroerd met julle gaan, julle diewe! Hoe lank dink julle kan julle nog aanhou om mense te verplig om sogenaamde skuld te betaal sodat julle nog ryker kan word?

7. Dinge sal nog verander, julle sal sien. Baie gou gaan hierdie mense by wie julle skuld invorder in opstand kom. Julle sal van vrees aan die bewe gaan as hulle julle begin aanval en julle in hulle mag beland.

8. Julle het baie nasies besteel, nou sal van die volke wat oorgebly het, julle besteel. Hulle sal wraak neem op julle oor al die mense wat julle vermoor het en oor al die stede en die mense wat onder julle geweld moes ly.

9. Dit sal nog beroerd met julle gaan, Babiloniërs! Julle het op onregverdige maniere winste gemaak en daarmee julle families ryk gemaak. Julle het gedink niemand kan aan julle vat nie. Julle het julle huise op so ’n manier probeer veilig maak dat geen gevaar naby julle sou kon kom nie.

Lees volledige hoofstuk Habakuk 2