Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 47:1-9 Die Boodskap (DB)

1. Die man wat die opmetings moes doen, het my toe weer teruggebring na die ingang van die huis van die Here toe. Toe sien ek iets snaaks. Daar het water onder die huis van die Here uitgekom, aan die oostekant daarvan. Die water het regs van die huis van die Here weggeloop, suid van die altaar verby.

2. Die man vat my toe aan die hand. Hy lei my by die ingang aan die noordekant van die huis van die Here uit, en om na die buitenste ingang aan die oostekant toe. Daar syfer die water toe regs langs die ingang uit.

3. Die man het na die oostekant toe gestap. Met sy liniaal het hy 500 meter afgemeet van hierdie ingang af. Toe wys hy vir my ek moet deur die water loop. Die water het tot by my enkels gekom.

4. Toe het hy nog 500 meter verder afgemeet. Hy het gaan staan en ek moes weer deur die water gaan. Hier het die water tot by my knieë gekom. Die man het toe nog 500 meter verder afgemeet, en ek moes weer deur die water loop. Hier het die water tot by my heupe gekom.

5. Toe meet hy nog 500 meter verder af. Maar hier was die water ’n diep stroom. Ek kon nie daardeur loop nie. Die water was so diep dat ’n mens sou moes swem.

6. Die man sê toe vir my: “Het jy opgelet wat gebeur het?” Toe stap ek saam met hom al langs die stroom terug tot by die huis van die Here.

7. Terwyl ons terugstap, sien ek daar staan groot, hoë bome aan weerskante van die stroom, al langs die wal van die rivier.

8. Die man het toe vir my verduidelik: “Hierdie water wat onder die drumpel van die huis van die Here uitkom, loop weg na die Jordaanvallei toe waar dit in die Dooie See inloop. En wanneer dit in die Dooie See inloop, word die soutwater van die Dooie See weer vars en skoon.

9. Oral waar hierdie water kom, wemel dit van al die soorte diere. En in die water is daar baie vis, want dit is vars, skoon water. In die Dooie See leef niks nie omdat die water dood is. Hierdie water sal die Dooie See se water weer vars maak. Oral waar hierdie water kom, sal alles lewe.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 47