Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 32:24-32 Die Boodskap (DB)

24. “Elam lê daar. Al die mense van Elam lê ook in die graf. Ek het hulle soontoe weggejaag toe Ek hulle gestraf het. Almal was doodbang vir hulle. Maar waar is hulle nou? Hulle lê doodstil in die graf. Hulle kan niks doen nie. Ek het hulle tot in die dood toe verneder.

25. Hulle lê nou magteloos daar saam met die ander wat in die oorloë dood is. Die grafte van al hulle mense is rondom hulle. Vroeër was die hele wêreld bang as jy net hulle naam noem. Maar nou lê hulle in die graf. Daar het niks van hulle oorgebly nie.

26. “Mesek-Tubal is ook daar, in die graf. Al hulle soldate se grafte is om hulle. Vroeër het mense gebewe as hulle van hierdie soldate gehoor het. Maar nou het Ek hulle van die aarde afgevee. Hulle is in die oorlog doodgemaak.

27. Hulle het nie eens behoorlike begrafnisse gehad soos helde wat in die oorlog dood is nie. Hulle is nie soos helde met militêre eerbewys begrawe nie. Almal was vir hulle bang. En wat het met hulle gebeur? Hulle is sommer in ’n gat in die grond gegooi.

28. “En nou dink jy, Egipte, dat dit met jou goed sal gaan? Ook jy sal van die aarde afgevee word! Jy sal ook doodgemaak word in die oorlog wat Ek stuur. Jy sal saam met die ander in die graf lê.

29. “Edom is reeds daar in die doderyk, met sy konings en prinse. Hulle was so sterk. En nou lê hulle tussen die soldate van ander lande wat mense doodgemaak het. Hulle is nou tussen die mense wat van die aarde weggevee is oor hulle slegte dade.

30. So ook al die prinse van die noorde en die mense van Sidon: hulle lê almal in die graf. Vroeër was mense vir hulle bang, maar nou het daar niks van hulle oorgebly nie. Hulle lê tussen die mense wat Ek vernietig het.

31. “Daardie dag as die koning van Egipte in die graf beland, sal hy uitvind dat dit nie net sy soldate is wat almal doodgemaak is nie.” So sê die Here, die God van Esegiël:

32. “Hy het duisende mense laat doodmaak. Sy soldate het baie nasies aangeval. Ek het toegelaat dat hy dit doen. Ek het hom gebruik. Ek het mense banggemaak. Maar nou kom die dag dat hy voor My gaan staan. En Ek oordeel hom oor sy slegte dade. Ek sal hom ook van die aarde af wegvee. Hy sal in die oorlog doodgemaak word. Dit is Ek, die God van Esegiël, wat hier praat.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 32