Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 28:12-23 Die Boodskap (DB)

12. “Mens, huil oor die koning van Tirus asof hy doodgegaan het. Gaan sê vir hom die Here, jou God, sê oor hom: Jy was volmaak. Jy was so slim. En jy was so mooi.

13. Jy het in die tuin van Eden gebly. Dit was die tuin waar God by mense gaan kuier het. Jou klere was die mooiste en die beste wat ’n mens kan kry. Jy het die duurste edelstene gedra. Jy was skatryk. Hulle het vir jou al hierdie skatte gegee die dag toe jy geskep is.

14. Ek het jou daardie dag aangestel om die leier van my boodskappers in die hemel te wees. Jy moes hulle saam met My oppas. Jy kon enige tyd na My toe kom, niemand het jou gekeer nie. Ja, jy het rondgeloop waar Ek was, en waar alles skoon was.

15. “Jy het niks ooit verkeerd gedoen nie. Jy het reg gelewe en goedgedoen, tot daardie dag dat jy die slegte dinge begin doen het.

16. Jy het die slegte begin doen omdat jy so ryk was. Jy het groot mag oor mense gehad. Toe het jy verkeerde dinge begin doen. Daarom het Ek jou weggejaag sodat jy nooit weer voor My mag kom nie. Jy was die magtige boodskapper wat my huis in die hemel moes oppas, maar Ek het jou weggejaag. Jy sal nie weer kom waar Ek is nie omdat dit daar te skoon vir jou is.

17. “Jy het so trots op jouself geword omdat jy mooi en slim en ryk was. En toe het jy skelm geword sodat jy nog meer geld in die hande kon kry. Jy het almal om jou belieg en bedrieg. Daarom het Ek jou uit die hemel gegooi. Ek het jou op die aarde neergegooi. Die heersers en belangrike mense op die aarde het gekyk hoe jy verneder word.

18. Jy het alles rondom jou vuil gesmeer. Jy het almal met wie jy besigheid gedoen het, bedrieg. Daarom het Ek ’n vuur binne-in jou aan die brand gesteek. En hierdie vuur sal jou verteer. Ek sal jou tot as verbrand. En al die mense van die aarde sal kyk hoe Ek dit doen.

19. Al die mense wat jou op aarde geken het, sal skrik en bewe as hulle sien wat met jou gebeur. Ek maak jou ’n voorbeeld sodat hulle nie sal doen wat jy gedoen het nie. Ek maak ’n verskriklike einde aan jou. Jy sal nie meer bestaan nie!”

20. Die Here het verder vir my gesê:

21. “Mens, kyk in die rigting van Sidon. En sê vir hierdie stad wat Ek vir jou sê.

22. Sê vir die mense van Sidon die Here, Esegiël se God, dink só oor hulle: Ek is jou vyand, Sidon! En Ek gaan Myself bekendmaak deur wat met jou gaan gebeur. Ek gaan jou voor die hof daag en jou skuldig bevind. Dan gaan Ek vir jou wys wie Ek is, die dag as Ek jou straf. Elkeen wat sien wat gebeur, sal dan besef en weet dat Ek die Here is.

23. Ek stuur ’n plaag teen jou. Jy sal doodgaan en jou bloed sal op jou strate lê. Jy sal van alle kante aangeval word. Jou mense sal dood binne-in die stad rondlê. Dan sal almal weet en erken dat Ek die Here is.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 28