Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 26:14-21 Die Boodskap (DB)

14. Ek maak jou eiland ’n kaal rotsplaat waarop niks kan groei nie. Die vissermanne sal hulle nette oor jou uitgooi om in die son droog te word. En jy sal nooit herbou word nie, want Ek, die Here, sê so.” Dit is die woord van die Here, Esegiël se God.

15. Dis wat die Here, die God van Esegiël, verder oor Tirus sê: “Al die mense wat op die eilande langs die kuslyn naby jou bly, sal bewe as hulle hoor hoe Ek jou vernietig het, Tirus. Hulle sal hoor hoe jy in jou nood roep om hulp. Hulle sal hoor hoe die mense wat gewond is, hardop huil.

16. Dan sal al die regeerders en konings van hierdie dorpe en stede opstaan. En hulle sal al die pragtige, duur klere wat hulle aanhet, uittrek. Vol vrees sal hulle op die grond neerval, so bang sal hulle wees oor wat gebeur het en wat hulle alles gesien het. Hulle sal bewe van vrees, bewe oor wat Ek aan jou gedoen het, Tirus.

17. “Daardie dag sal hierdie mense ’n begrafnislied sing. Hulle sal sê: ‘Jy was so ’n bekende stad op die mooi eiland van Tirus. Jy het oor die see regeer, so sterk was jy. En nou is jy verwoes! Daar het niks van jou oorgebly nie. Eens op ’n tyd het jou mense met hulle bote oor die hele wêreld gevaar. En hulle was so sterk en ryk dat almal vir hulle bang was.

18. Nou bewe al die mense wat langs die see bly omdat jy verwoes is. Die mense wat op die eilande bly, is wit van die skrik oor wat met jou gebeur het.’”

19. Die Here, die God van Esegiël, sê: “Ek maak van Tirus ’n plek waar geen mens ooit weer sal kan bly nie. Jy sal wegsink terwyl die golwe van jou vyande oor jou spoel. Hulle sal jou aanval en jy sal verwoes word.

20. Ek gooi jou in jou graf. Jy sal daar wees saam met al die ander wat voor jou dood is. Waar jou stad was, sal net ’n ruïne wees, sonder enige vorm van lewe daarin. Jou stad sal onder die grond begrawe wees. Jy sal nooit weer die son sien opkom nie en niemand sal meer respek vir jou hê nie.

21. Ek maak jou ’n voorbeeld om ander af te skrik sodat hulle nie dieselfde dom dinge as jy sal doen nie. Dis klaar met jou! Hulle sal jou nooit weer kry as Ek met jou klaar is nie,” sê die Here, die God van Esegiël.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 26