Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 22:19-31 Die Boodskap (DB)

19. So sê die Here, die God van Esegiël, oor julle: “Julle is ’n waardelose en nuttelose klomp skuim. Daarom gaan Ek julle almal in Jerusalem in ’n smeltery bymekaargooi.

20. Soos jy silwer, koper, yster, lood en tin saamgooi en die vuur aanblaas en warm maak om die metale te smelt, so gooi Ek julle bymekaar. Want Ek is kwaad oor al julle slegte dade. Ek smelt julle.

21. Ek gooi julle bymekaar en my woede is die vuur waarmee Ek julle vernietig.

22. Julle sal soos silwer smelt wat aan groot hitte blootgestel is. Dan sal julle weet en erken dat Ek die Here is en dat Ek my woede op julle uitgestort het.”

23. Die Here het toe weer met my gepraat:

24. “Mens, sê vir die mense van Israel Ek sê vir hulle: Die dag as Ek julle straf, sal julle land geen reën meer kry nie. Dit sal so droog word dat julle land soos ’n woestyn sal lyk.

25. “Die mense wat in julle land regeer, is soos leeus wat loop en brul en op soek is na iets om te vreet. Hulle vang onskuldige mense en vreet hulle op, want hulle wil hierdie mense se besittings steel. Hulle maak baie vroue in die land se mans dood.

26. “Selfs die mense wat in my diens is, steur hulle nie aan wat Ek vir julle sê nie. Hulle maak net wat hulle wil. Die goed wat aan My behoort, smeer hulle vuil. Vir hulle is daar nie meer ’n verskil tussen wat aan die Here behoort en dit wat onrein is nie. En hulle leer ook nie vir gelowiges wat die verskil is tussen wat aan die Here behoort en wat vuil is nie. Hulle doen enigiets op die sewende dag, ’n dag wat eintlik aan My behoort. Mense het geen respek meer vir My nie.

27. “Die mense wat in julle land regeer, is soos wolwe wat iets vang en dit verskeur. Hulle vang mense en skeur hulle stukkend om geld daaruit te maak.

28. “Die mense wat vir die volk moes sê wat Ek beveel, vertel dat hulle dinge gesien het wat Ek nooit vir hulle gewys het nie. Hulle sê dinge wat Ek nie vir hulle gesê het nie. Hulle sê: ‘Wat ek sê, is wat die Here my God vir my gesê het om te sê!’ Maar die Here het nog nooit ’n enkele woord met hulle gepraat nie.

29. “Die man op straat beroof die arm mense. Hy besteel die mens wat behoeftig is. Hy lieg en bedrieg links en regs. Hy behandel vreemdelinge so sleg asof daar geen wet in die land is wat mense uit vreemde lande beskerm nie.

30. “Ek het gesoek na iemand in die stad wat goed sal doen, iemand wat ’n muur om die stad sal bou sodat die stad teen sy vyande beskerm kon word. So iemand moet goeddoen. Maar Ek het nie so iemand in die stad gekry nie. Niemand sal die stad kan beskerm nie.

31. Daarom gaan Ek in my woede die stad vernietig. My woede sal soos ’n groot vuur wees wat alles verwoes. Hierdie stad se mense sal betaal vir al die slegte dade wat hulle gepleeg het. Hulle sal tot die laaste sent toe hulle skuld moet betaal,” sê die Here, Esegiël se God.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 22