Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 21:9-24 Die Boodskap (DB)

9. “Mens, praat met hierdie klomp mense en sê vir hulle: ’n Swaard word skerp gemaak vir julle!

10. Die swaard word reggemaak om te kom vernietig. Hy sal so vinnig soos weerlig blits. Lag julle daaroor? Ander mense wat baie sterker as julle is, is deur hierdie swaard doodgemaak.

11. Ja, die swaard word nou reeds skerp gemaak en blink gevryf. Dit word reggemaak vir die man wat die vonnis oor julle moet kom voltrek!

12. “Mens, skree hard en huil. Huil kliphard! Want hierdie selfde swaard gaan my volk met al sy leiers kom doodmaak. Almal van hulle sal doodgemaak word.

13. Ek sal my volk toets. Watter kans sal hulle hê as Ek hulle begin straf?” Dis die Here, Esegiël se God, wat dit vra.

14. “Mens, sê vir hulle presies wat Ek vir jou sê. Maak ’n geraas sodat die volk vir jou kyk. En swaai dan die swaard twee, drie maal heen en weer. Wys só vir die volk hoe groot die verwoesting onder hulle gaan wees.

15. Maak hulle bang. Laat hulle harte inmekaarkrimp van vrees, want die swaard wag by elke hek waar ’n mens sou kon uitvlug. Dit is blink gevryf om mense dood te maak.

16. O, swaard, kap na die linkerkant. En na die regterkant. Kap waar jy wil en na wie jy wil.

17. Ja, daardie dag sal Ek ook my hande klap, so bly sal Ek wees dat Ek my woede op julle kon afkoel oor al julle slegte dade. Ek, die Here, het met julle gepraat.”

18. Die Here het met my gepraat. Hy het gesê:

19. “Mens, teken ’n kaart van dié deel van die wêreld. Teken dan op jou kaart twee roetes waarlangs die koning van Babilonië kan reis om by jou land uit te kom. Hy gaan soontoe om jou volk te verwoes. Maak ’n padteken langs die pad net buite die stad Babel, waar die koning van Babilonië bly.

20. Sit die padteken neer daar waar die pad in twee deel. Die een pad gaan Rabba toe, die hoofstad van die Ammoniete. En die ander pad gaan Juda toe, en Jerusalem toe, die hoofstad van jou volk.

21. “Die koning van Babilonië staan nou juis by daardie vurk in die pad. Hy staan en wonder of hy Rabba of Jerusalem moet aanval. Nou gaan hy sy towenaars roep dat hulle vir hom kan kom sê wat hy moet doen. Hulle sal hulle dolosse gooi en diékant toe en daardie kant toe beduie.

22. En dan beduie hulle vir die koning wat hulle dink hy moet doen: Gaan val Jerusalem aan! Die hele weermag maak nou hulle wapens gereed, want hulle gaan Jerusalem aanval. Die bevel is klaar gegee: Val die stad aan! Skree terwyl julle die mense van die stad doodmaak, soldate! Val die stadsmure aan totdat hulle inmekaarstort. Klim bo-oor!

23. “Die mense van Jerusalem dink dis ’n fout. Die koning van Babilonië kan hulle mos nie aanval nie! Hulle het dan vrede met hom gemaak! Hy misgis hom seker! “Maar dan sal die koning van Babilonië die mense van Jerusalem herinner hoe hulle teen hom in opstand gekom het. Hulle het nie hulle woord teenoor hom gehou nie. Hy sal Jerusalem aanval en al die inwoners van die stad gevange neem.”

24. Die Here, die God van Esegiël, sê vir julle: “Julle is skuldig. Julle kry nie eens skaam oor julle slegte dade nie. Wat julle ook al doen om dit weg te steek, almal kan julle slegte dade sien. Moenie eens probeer om dit weg te steek nie. Alles wat julle doen, is sleg. Nou het die tyd gekom dat julle daarvoor gestraf gaan word.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 21