Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 1:4-18 Die Boodskap (DB)

4. Voor my oë het ’n toneel afgespeel. Ek het ’n storm uit ’n noordelike rigting sien aankom. Groot storms hier in Babilonië kom altyd uit die noorde. Die stormwind het saam met donker wolke gekom, met weerlig wat heen en weer flits en die wolke helder verlig. Dit het gemaak dat die wolke soos flikkerende vuur gegloei het, asof daar gloeiende geelkoper daarin was.

5. Soos die wolke nader kom, het ek gesien dat daar binne-in een van die wolke iets was. Dit was die platform waarop die stoel gestaan het waarop God self gesit het. Die platform het uit vier vreemde wesens bestaan. Hulle het soos mense gelyk.

6. Elkeen van die wesens het vier gesigte gehad. En elkeen het ook vier vlerke gehad.

7. Hulle bene was so reguit soos ’n mens se bene, maar hulle het nie voete soos ’n mens nie. Hulle voete was kloue soos dié van beeste. Die voete dui op hulle krag: hulle is so sterk soos beeste. Hulle bene het geblink soos geelkoper wat blink gevryf is. Die glans herinner aan dié van weerlig. Behalwe vier gesigte en vier vlerke het elke wese ook vier hande gehad.

8. Onder elke vlerk was daar ’n hand. Vier is die getal wat na die vier windrigtings verwys, en die volgende sê: die Here kan enigiets doen en Hy kan in enige rigting beweeg.

9. Die vlerke van elke wese het aan die vlerke van die twee wesens weerskante van hom geraak, sodat die vlerke ’n vierkant gevorm het. Wanneer hulle beweeg het, was dit as ’n groep sonder dat enigeen sy liggaam gedraai het. Die vier lewende wesens was ’n eenheid.

10. Die vier gesigte wat elke lewende wese gehad het en wat in elke windrigting gewys het, was dié van die sterkste in die diere- en voëlryk. Die gesig aan die voorkant het gelyk soos dié van ’n mens. Die gesig aan die regterkant het weer gelyk soos dié van ’n leeu. Die gesig aan die linkerkant was dié van ’n bul, en die gesig aan die agterkant het gelyk soos dié van ’n arend. Die vier gesigte was tekens van God se magtige teenwoordigheid.

11. Elke lewende wese het met sy twee boonste vlerke aan die vlerke van die lewende wesens aan weerskante van hom geraak. Die ander twee vlerke was toegevou, en daarmee het die lewende wese homself bedek.

12. In die vier wesens was daar een Gees. Die vier wesens het as ’n eenheid beweeg in die rigting waarin die Gees dit laat gaan het. Nie een van die wesens het van koers afgewyk wanneer die Gees hulle laat beweeg het nie. Die groep het reguit vorentoe beweeg in die rigting wat die Gees gekies het sonder dat hulle ooit omgedraai het.

13. Die wesens het soos ’n witwarm vuur gelyk, met helder vlamme wat tussen hulle beweeg. Die vlamme het opgevlam soos dié van ’n baie warm vuur, of soos weerligstrale wat aanhoudend blits.

14. En die lewende wesens het soos weerligstrale heen en weer geflits.

15. Terwyl ek na die wesens kyk, sien ek vier wiele op die grond onder die wesens. Onder elke wese was ’n wiel wat aan die grond geraak het.

16. Die wiele het geskitter soos duur en kosbare diamante. Hulle was baie mooi. Al vier die wiele het presies dieselfde gelyk. En binne-in elke wiel was nog ’n wiel, dwars gedraai teenoor die ander een.

17. Die wiel binne ’n ander wiel het gemaak dat die wesens daar bo in enige rigting kon beweeg sonder om te draai as hulle beweeg.

18. Die wiele het my beïndruk omdat dit so groot was. Die buitenste raam waaroor die band van die wiel getrek was, was vol oë wat in alle rigtings gekyk het.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 1