Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 8:19-32 Die Boodskap (DB)

19. “Hierdie is ’n vingerwysing van God,” het die towenaars vir die farao gesê. Maar die farao se kop het net al harder geword en hy het bly weier om na Moses-hulle te luister. Hy het presies opgetree soos God gesê het dit sou gebeur.

20. Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet môreoggend vroeg opstaan en vir die farao gaan wag wanneer hy na die water toe kom. Jy moet weer vir hom sê dat die Here van hom eis: ‘Laat my volk toe om te gaan en My te aanbid.

21. As jy nie my volk toelaat om te gaan nie, sal Ek swerms vlieë op jou en jou amptenare en jou volk en julle huise loslaat. In die huise van Egipte en oral in die land sal dit wemel van die vlieë.

22. Ek sal egter ’n uitsondering maak van Gosen, waar my volk woon. Daar sal nie vlieë wees nie. Jy sal dan weet dat Ek, die Here, baas is oor hierdie land en daarmee kan maak soos Ek wil.

23. Ek sal my mense anders behandel as jou mense. Hierdie ding sal môre gebeur.’”

24. Die Here het toe gemaak soos Hy gesê het. Daar het groot swerms vlieë in die farao en sy mense se huise gekom en ook oor die hele land. Die hele land is in chaos gedompel deur die vlieëplaag.

25. Die farao het Moses en Aäron toe laat roep: “Goed, julle kan vir julle God gaan offer, maar dit moet hier in dié land wees.”

26. “Ons kan dit nie hier doen nie,” het Moses hom geantwoord. “Die offers wat ons vir die Here ons God bring, is grillerig vir die mense van Egipte. As ons hier offer waar die Egiptenaars ons kan sien, sal dit vir hulle so gruwelik wees dat hulle ons met klippe sal doodgooi.

27. Gee eerder vir ons drie dae om in die woestyn in te gaan. Ons wil daar gaan offer vir die Here ons God, op die manier wat Hy vir ons voorgeskryf het.”

28. “Goed,” sê die farao toe, “ek sal julle toelaat om in die woestyn vir die Here julle God te gaan offer. Julle mag net nie baie ver in die woestyn ingaan nie. Bid ook sommer dat hierdie plaag kan ophou.”

29. Moses sê toe: “Wanneer ek van hier af weggaan, sal ek by die Here pleit dat die vlieë môre van u en u amptenare en u volk moet padgee. U moet net nie weer met ons speletjies probeer speel en daarna weier dat die volk kan gaan om vir die Here te offer nie.”

30. Moses is toe weg van die farao af en het tot die Here gebid om die vlieë weg te vat.

31. Die Here het dan ook gemaak soos Moses belowe het: Hy het die vlieë van die farao en sy amptenare en sy volk af laat padgee. Daar het nie eens een oorgebly nie.

32. Die farao het egter weereens moedswillig geraak en sy woord verbreek. Hy het weer ’n keer geweier om die volk te laat gaan.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 8