Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 32:9-19 Die Boodskap (DB)

9. Want die volk van Israel behoort aan die Here. Jakob is sy persoonlike eiendom. Hy het hierdie volk geskep om vir Hom vreugde te gee.

10. “Die Here het Israel in ’n woestyn gaan haal. Daar was niks in die woestyn om van te leef nie. Daar het Hy hierdie volk gered. Hy het hulle met sy liefde toegemaak en hulle beskerm. Hy het oor Israel wag gehou asof Israel sy kosbaarste skat en besitting is. Hy het hulle opgepas en gelei op die beste pad.

11. “’n Arend skop op ’n dag haar kleintjies wat te groot geword het, uit die nes uit. Hulle moet op hulle eie begin kos soek en hulle eie nes skrop. Maar wanneer sy hulle uitskop, vlieg sy onder hulle in sodat sy haar kuikens eers op haar vlerke dra. Sy doen dit totdat hulle self kan vlieg, en genoeg selfvertroue het om oor die weg te kom.

12. Net so het die Here sy volk gelei. Hy alleen het vir sy volk gesorg. Hy het hulle gedra. Geen ander god het Hom gehelp nie. Israel het net voor die Here gebuig.

13. “Dis die Here wat vir sy volk hierdie mooi land gegee het. Hy het dit vir hulle as ’n geskenk gegee. Hierdie land het genoeg dat sy inwoners kon eet tot hulle versadig is. Daar was heuning wat jy oral in die veld kon kry. Daar was olie wat uit die harde klip gemyn kon word.

14. Die mense het botter van melk gemaak. En hulle het melk van hulle vee gekry. Daar was vet lammers en skaapramme en bokramme uit Basan om te eet. Hulle het die beste koring gehad. Daar was genoeg wyn om te drink wat hulle van die beste druiwe gemaak het. Die Here het dit vir hulle gegee.”

15. “Maar Israel het gou-gou vet en lui geword. Die Here het Israel baie liefgehad en hulle bederf. Maar Israel het so vet geword dat hulle nie meer moeite wou doen nie. Toe het hierdie volk nie meer na die Here geluister nie. Hulle het die God wat hulle gemaak het, weggestoot. Hoe dom was hulle nie! Israel was so vol van hulleself dat hulle hulle nie meer aan God gesteur het nie. En dit is die God wat hulle gered het toe hulle in die nood was! Israel het die Rots verwerp waarop hulle hul lewe gebou het.

16. “Toe het hulle ander gode begin aanbid. God het jaloers geword, want Hy is baie lief vir sy volk. Hy wil hulle net vir Homself hê. Hulle het hulle God woedend kwaad gemaak met die allerverskriklikste dinge wat hulle gedoen het. Hulle het die Here beledig met wat hulle gedoen het.

17. So het hulle offers vir duiwels gebring. Hulle het goed wat nie eens gode was nie, gedien. Hulle het daardie gode nie voorheen geken nie. Hierdie gode is maar nou die dag eers uitgevind. Hulle oupas en oumas het nie eens geweet dat sulke gode bestaan nie. Maar hierdie klomp mense het voor sulke nikswerd goed gebuig en hulle gedien.

18. Jy het die Een wat jou kan beskerm, die Een wat jou gemaak het, afgeskeep, Israel. Jy het die God wat jou geskep het, vergeet.

19. “Die Here het gesien wat jy doen. En dit was afskuwelik vir Hom. Hy het kwaad geword vir sy eie seuns en dogters. Julle het Hom woedend gemaak.”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 32