Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 32:7-14 Die Boodskap (DB)

7. Dink ’n bietjie terug aan die pad wat God saam met jou geloop het. Onthou watter goeie dinge Hy vir Israel gedoen het. As jy nie kan onthou nie, vra die ou mense om vir jou te vertel.

8. “God wat enigiets kan doen, het nasies in verskillende lande geplaas om daar te bly. Hy het mense in volke opgedeel. Hy het self die grense getrek van die lande waarin hulle moet bly. Net so het Hy ook die grense van die grondgebied van Israel bepaal.

9. Want die volk van Israel behoort aan die Here. Jakob is sy persoonlike eiendom. Hy het hierdie volk geskep om vir Hom vreugde te gee.

10. “Die Here het Israel in ’n woestyn gaan haal. Daar was niks in die woestyn om van te leef nie. Daar het Hy hierdie volk gered. Hy het hulle met sy liefde toegemaak en hulle beskerm. Hy het oor Israel wag gehou asof Israel sy kosbaarste skat en besitting is. Hy het hulle opgepas en gelei op die beste pad.

11. “’n Arend skop op ’n dag haar kleintjies wat te groot geword het, uit die nes uit. Hulle moet op hulle eie begin kos soek en hulle eie nes skrop. Maar wanneer sy hulle uitskop, vlieg sy onder hulle in sodat sy haar kuikens eers op haar vlerke dra. Sy doen dit totdat hulle self kan vlieg, en genoeg selfvertroue het om oor die weg te kom.

12. Net so het die Here sy volk gelei. Hy alleen het vir sy volk gesorg. Hy het hulle gedra. Geen ander god het Hom gehelp nie. Israel het net voor die Here gebuig.

13. “Dis die Here wat vir sy volk hierdie mooi land gegee het. Hy het dit vir hulle as ’n geskenk gegee. Hierdie land het genoeg dat sy inwoners kon eet tot hulle versadig is. Daar was heuning wat jy oral in die veld kon kry. Daar was olie wat uit die harde klip gemyn kon word.

14. Die mense het botter van melk gemaak. En hulle het melk van hulle vee gekry. Daar was vet lammers en skaapramme en bokramme uit Basan om te eet. Hulle het die beste koring gehad. Daar was genoeg wyn om te drink wat hulle van die beste druiwe gemaak het. Die Here het dit vir hulle gegee.”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 32