Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 2:26-45 Die Boodskap (DB)

26. Die koning het vir Daniël, wat ook Beltsasar genoem is, gevra: “Is dit waar? Kan jy regtig vir my sê wat ek gedroom het en wat dit beteken?”

27. Daniël het geantwoord: “Daar is geen raadgewer, waarsêer of sterrevoorspeller wat in staat is om te doen wat u verwag nie.

28. Maar daar is ’n God in die hemel wat geheime bekend kan maak. Hy het in die droom aan u, koning Nebukadnesar, kom wys wat in die toekoms gaan gebeur. Daarom sal ek nou vir u vertel wat die gesig beteken wat u in u droom gesien het.

29. “Terwyl U Majesteit geslaap het, het u oor die toekoms gedroom. God wat sulke geheime bekend kan maak, het vir u gewys wat in die toekoms gaan gebeur.

30. Nou, die rede waarom ek u droom kan uitlê, is nie omdat ek slimmer is as enige ander mens nie, maar omdat God wou hê dat u moet weet wat die betekenis van die droom was. U moet verstaan waaroor u gedink het.

31. “U Majesteit het in u droom ’n groot beeld gesien wat voor u staan. Dit was hoog en blink; iets skrikwekkends.

32. Die beeld se kop was van soliede goud; sy bors en arms van silwer en sy maag en heupe van brons;

33. sy bene was van yster. Sy voete was een deel van yster en ’n ander deel van klei gemaak.

34. Terwyl u nog so na die beeld kyk, het ’n rots op ’n bonatuurlike manier van die berg af losgebreek en teen die voete van yster en klei vasgerol en hulle totaal verwoes.

35. Die hele beeld het inmekaargeval in ’n hoop yster, klei, brons, silwer en goud. Die rots het dit alles fyngerol soos kaf op ’n dorsvloer. Die wind het opgekom en alles weggewaai sonder dat ’n spoor daarvan oorgebly het. Daarna het die klip begin groei totdat dit ’n berg geword het wat die hele aarde volgemaak het.

36. “Dit was u droom. Nou sal ek vir u verduidelik wat dit beteken.

37. U Majesteit, u is die grootste van al die konings. Die God van die hemel het u die sterkste op aarde gemaak. Hy het vir u mag, gesag en eer gegee.

38. Hy het u die heerser oor die hele aarde gemaak. U beheer selfs die diere en die voëls. U is die kop van goud.

39. Ná u koninkryk sal daar ’n ander koninkryk kom wat u plek sal inneem. Maar dit sal nie so sterk soos u s’n wees nie. Na die val van hierdie koninkryk sal daar ’n derde koninkryk kom. Dit is die bronsgedeelte van die beeld in u droom. Hierdie koninkryk sal groot en sterk word en oor die hele wêreld regeer.

40. Dan sal daar ’n vierde koninkryk ontstaan wat so sterk soos yster sal wees, wat alles breek en vernietig. So sal hierdie koninkryk al die vorige koninkryke breek en vernietig.

41. Maar u het gesien dat die voete en tone van die beeld in u droom gedeeltelik van klei en gedeeltelik van yster was. Dit beteken dat hierdie koninkryk ook in homself verdeeld sal wees.

42. Sommige dele sal so sterk soos yster wees en ander weer so swak soos klei, soos dit maar in so ’n mengsel gebeur.

43. U het ook gesien dat die yster en die klei gemeng was. Dit beteken dat die regeerders van hierdie koninkryk hulle koninkryk sal probeer verenig deur met mekaar te ondertrou. Dit sal nie werk nie, net so min as wat yster en klei kan meng.

44. Tydens hierdie konings se regering sal die God van die hemel ’n koninkryk laat ontstaan wat nooit vernietig sal word nie. Niemand sal hierdie koninkryk kan oorwin nie, maar dit sal al die ander koninkryke vernietig totdat dit alleen oorbly vir altyd.

45. Dit is die betekenis van die rots wat op ’n bonatuurlike wyse van die berg losgekom en die beeld van yster, brons, klei, silwer en goud totaal verwoes het. Die magtige God het vir u kom wys wat in die toekoms gaan gebeur. Die droom is waar en my verduideliking hiervan is ook die waarheid.”

Lees volledige hoofstuk Daniël 2