Ou Testament

Nuwe Testament

Amos 5:1-9 Die Boodskap (DB)

1. Luister na die woorde van die lied wat op julle begrafnis gesing gaan word, Israel:

2. “Israel was ’n jongmeisie. Sy het so diep in die sonde weggesak dat sy nooit weer daar kan uitkom nie. Sy het so diep in die moeras van verkeerde dinge weggesak dat niemand haar ooit weer daaruit kan trek nie.”

3. Die Here sê oor Israel: “Van die stad waarvan daar 1 000 soldate weggegaan het om in die oorlog te gaan veg, het daar net 100 teruggekom wat nog lewe. “Van die dorp waaruit 100 man gaan veg het, het 10 by die huis teruggekom.”

4. Dit is wat die Here vir Israel sê: “Kom terug na My toe, dan sal julle bly lewe.

5. Moenie My gaan soek by die plek van aanbidding by Bet-El nie. Moenie na die altaar by Gilgal toe gaan nie. Moenie aftrek na Berseba om daar te gaan bid nie. Die pad waarlangs die vyand julle uit julle land sal wegvat, begin by Gilgal. Bet-El is die plek waar ’n ramp julle gaan tref.

6. Soek na die Here self, dat julle kan bly leef. As julle nie by Hom uitkom nie, sal Hy soos ’n vuur wees wat Josef se nageslag gaan wegbrand. Dit sal Israel heeltemal laat verdwyn. By Bet-El sal dit so erg brand dat niks dit sal kan keer nie.”

7. “Julle verdraai die wet en die dinge wat reg is, só dat alles eintlik bitter onregverdigheid word. Julle trap die dinge wat regverdig is, in die grond in weg.”

8. “Hy wat tussen die sterre in die lug die Sewester en die Orion gemaak het, wat donker nag weer lig kan laat word in die oggend, die dag kan omdraai dat dit donker nag kan word, wat die waters van die see in ’n bondel bymekaarmaak in wolke wat reën uitgooi oor die aarde, sy Naam is ‘Die Here’.

9. “Hy kan geweldige sterk mense in ’n oomblik op hulle knieë bring, Hy kan sterk vestingmure in ’n oomblik inmekaar laat stort.”

Lees volledige hoofstuk Amos 5