Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 7:4-18 Die Boodskap (DB)

4. Daarna het die koning en al die Israeliete begin om diere te slag as ’n offer vir die Here.

5. Koning Salomo het 22 000 beeste en 120 000 skape geslag. Só het die koning en die volk die tempel van God ingewy.

6. Die priesters het op hulle plekke gaan staan. Die Leviete ook, en hulle het gesing: “Aan sy liefde is daar geen einde nie.” Hulle sang is begelei met die musiek van die instrumente wat Dawid laat maak het om die Here te prys. Toe het die priesters op die trompette geblaas, terwyl al die Israeliete opgestaan het.

7. Salomo het daarna die middelste deel van die voorhof, wat reg voor die tempel geleë was, aan die Here gewy. Dit is waar hulle toe die brandoffers en die vetgedeeltes van die maaltydoffers verbrand het. Dit was nodig omdat al die offers wat hulle wou verbrand, nie op die bronsaltaar kon pas wat Salomo laat bou het nie.

8. Salomo en al die Israeliete het toe vir die volgende sewe dae lank feesgevier. Dit was ’n reusesaamtrek. Mense het daarheen gestroom van Lebo-Hamat af tot by die Egiptespruit, vanuit die hele land.

9. Vir sewe dae na die inwyding van die altaar het hulle fees gehou. Op die agtste dag het hulle dit afgesluit en daarna vir nog sewe dae die huttefees gevier.

10. Na al die feeste, op die 23ste dag van die sewende maand, het Salomo almal huis toe laat gaan. Almal was bly en gelukkig omdat die Here so goed vir Dawid, Salomo en sy volk Israel was.

11. Salomo het die tempel en sy eie paleis klaar gebou. Hy het ook alles voltooi wat hy graag aan die tempel wou doen.

12. Toe het die Here een nag aan hom verskyn en gesê: “Ek het jou gebed gehoor en hierdie tempel gekies as die plek waar julle vir My moet offer.

13. Daar kan tye kom dat Ek ’n droogte stuur, of sprinkane om die oeste op te vreet, of siekte-epidemies onder die mense.

14. As dit gebeur en my volk verneder hulleself en hulle soek na my wil, en as hulle ophou met hulle verkeerde optrede, sal Ek hulle vergewe. Dan sal Ek hulle land gesond maak.

15. Ek sal luister na elke gebed wat hiervandaan gebid word,

16. want Ek het nou hierdie tempel gekies. Dit sal altyd my huis wees. Ek sal altyd self hier wees.

17. “Nou wat jou betref: as jy optree soos jou pa, Dawid, gedoen het, en as jy my wette en voorskrifte en reëls gehoorsaam,

18. sal Ek sorg dat niemand jou posisie as koning aantas nie. Ek herhaal die belofte wat Ek aan jou pa, Dawid, gemaak het nou ook aan jou: daar sal altyd iemand uit die nageslag van Dawid wees om op die troon van Israel te sit.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 7