Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 5:1-11 Die Boodskap (DB)

1. Al die bouwerk aan die tempel van die Here is voltooi. Daarna het Salomo al die skatte wat sy pa, koning Dawid, vir die Here gegee het, na die tempel toe gebring. Hy het die silwer en goud en al die gereedskap in die tempel se skatkamers gebêre.

2. Salomo het toe al die familiehoofde van Israel in Jerusalem byeengeroep. Die doel was om die ark van die verbond van die Here uit Sion, die Stad van Dawid, na die tempel toe te neem.

3. Almal het op die feesdag, wat in die sewende maand geval het, by die koning bymekaargekom.

4. Toe al die leiers van Israel daar bymekaar was, het die Leviete die ark opgetel.

5. Hulle het die ark en die tent waar die Here aanbid is en al die heilige voorwerpe wat by die tent gehoort het, saamgebring. Die Levitiese priesters het dit na die tempel toe opgedra.

6. Koning Salomo en die hele gemeenskap wat saam met hom voor die ark bymekaar was, het skape en beeste begin offer. Hulle het soveel diere geoffer dat ’n mens nie kon byhou om te tel nie.

7. Die priesters het toe die ark in die Allerheiligste plek in die tempel ingebring en dit onder die vlerke van die gerubs neergesit.

8. Die gerubs se vlerke was só uitgesprei dat hulle die hele ark, met draaghoute en al, bedek het.

9. Die draaghoute was so lank dat ’n mens hulle van die ingang van die Heilige vertrek af kon sien, maar nie van buite af nie. Dit is nog steeds so.

10. Daar was niks in die ark nie behalwe die twee plat klippe wat Moses by Horeb daarin gesit het. Hy het dit gedoen toe die Here ’n ooreenkoms met Israel aangegaan het, nadat hulle uit Egipte vertrek het.

11. Die priesters het toe die Heilige plek verlaat. Al die priesters, of dit dié dag hulle diensbeurt was of nie, het hulleself gereinig soos wat die Here se voorskrifte bepaal.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 5