Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 36:12-22 Die Boodskap (DB)

12. Die Here was nie tevrede met wat Sedekia gedoen het nie. Hy het geweier om na die profeet Jeremia, wat namens God gepraat het, te luister.

13. Sedekia het ook teen Nebukadnesar in opstand gekom, selfs al het hy in die Here se Naam gesweer dat hy aan Nebukadnesar getrou sou wees. Sedekia was hardkoppig. Hy het volstrek geweier om hom aan die Here, Israel se God, te onderwerp.

14. Die leiers van die priesters en die volk was ook ongehoorsaam aan die Here. Hulle het ander volke se godsdienstige gebruike aangehang en die Here se tempel onrein gemaak met al hulle sondes.

15. Die Here hulle God het keer op keer weer profete na hulle toe gestuur om hulle te waarsku, want Hy was jammer vir sy volk en vir sy tempel.

16. Maar die mense het die boodskappers afgelag en hulle boodskappe verwerp. Hulle het die profete bespot totdat die Here só kwaad was dat Hy besluit het om hulle swaar te straf.

17. Die Here het toe die koning van Babel gebruik om die mense van Juda te straf. Die Babiloniërs het die jongmans van Juda doodgemaak, selfs binne-in die tempel. Hulle het niemand oorgesien nie, geen jongmens nie. Nie eers die oumense is gespaar nie. Die Here het hulle almal in die hande van die koning van Babel oorgelaat.

18. Nebukadnesar het alles wat in die tempel gebruik is, vir homself gevat. Hy het ook al die skatte wat in die Here se tempel, die koning se paleis en in die hoë amptenare se besit was, vir hom gevat.

19. Daarna het hy die tempel van God aan die brand gesteek, die stadsmuur van Jerusalem afgebreek en al die deftige huise in die stad afgebrand. So is alles wat waardevol was, vernietig.

20. Nebukadnesar het die mense wat nie doodgemaak is nie, na Babel toe weggevat. Hulle moes as slawe vir hom en sy seuns gaan werk. Dit het aangehou totdat die koninkryk van Persië die Babiloniërs verslaan het.

21. Toe dit gebeur het, het ’n boodskap van die Here wat deur Jeremia oorgedra is, waar geword: “Die land het uiteindelik sy sabbatsrus geniet toe hy vir 70 jaar verlate was.”

22. In koning Kores van Persië se eerste regeringsjaar het die Here nog ’n voorspelling van Jeremia waar laat word. Die Here het Kores beweeg om ’n koninklike boodskap deur die hele land te stuur.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 36