Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 24:1-11 Die Boodskap (DB)

1. Joas was net sewe jaar oud toe hy koning geword het. Hy het 40 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Sibja, ’n vrou uit Berseba.

2. Joas se optrede het die Here tevrede gestel so lank as wat Jojada gelewe het.

3. Jojada het vir Joas twee vroue uitgesoek en hulle het ’n gesin met seuns en dogters gehad.

4. ’n Ruk later het Joas besluit om die tempel van die Here op te knap.

5. Hy het die priesters en die Leviete bymekaargeroep en gesê: “Gaan na die stede en dorpe van Juda toe. Roep al die Israeliete op om hulle jaarlikse bydraes te gee sodat ons die tempel kan opknap. Maak gou! Ek beskou dit as ’n dringende saak.”Die Leviete het getalm en nie dadelik daaraan begin werk nie.

6. Joas het toe met Jojada, die hoëpriester, geraas: “Waarom het u nie gesorg dat die Leviete die tempelbelasting van die mense in Juda en Jerusalem gaan insamel nie? Moses het die belasting al in die woestyn ingestel om die tent waar die Here aanbid is te kon onderhou!”

7. Oor die jare het Atalia en haar mense die Here se tempel van sy spesiale voorwerpe beroof. Hulle het selfs die tempelbelasting gebruik om die Baäls te dien.

8. Joas het toe opdrag gegee dat hulle ’n kis moes maak. Die kis is by die ingang van die tempel neergesit.

9. Hulle het toe al die mense in Juda en Jerusalem opgeroep om hulle belasting in die kis te kom gooi. Hulle is daaraan herinner dat Moses, God se dienaar, dié belasting reeds in die woestyn van alle Israeliete geëis het.

10. Die leiers en al die mense was bly hieroor. Hulle het hulle bydraes gebring en die kis volgemaak.

11. Elke keer as die kis vol was, het die Leviete dit na die koning se amptenare gebring. Die staatsekretaris en ’n amptenaar van die hoëpriester het die kis dan kom leegmaak en die geld getel. Daarna is die kis teruggevat na sy plek toe. Dit het elke dag so aangehou en ’n groot bedrag geld is uiteindelik ingesamel.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 24