Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 10:1-9 Die Boodskap (DB)

1. Daar het 70 prinse uit Agab se familie in Samaria gewoon. Jehu het vir die leiers in Samaria en vir die mense wat die prinse grootgemaak en geleer het ’n brief geskryf. Hy het geskryf:

2. “Die koning se seuns is almal by julle en julle het strydwaens, perde, wapens en ’n versterkte stad tot julle beskikking.

3. Kies nou die beste kandidaat uit die seuns as sy pa se opvolger. Maak dan reg om Agab se koningshuis te verdedig.”

4. Die leiers was baie bang vir Jehu en het vir mekaar gesê: “Hy het nou al klaar twee konings doodgemaak. Hoe sal ons ooit teen hom kan wen?”

5. Hulle het eenparig vir Jehu laat weet: “U kan maar sê wat ons moet doen en ons sal dit doen. Ons wil nie een van die seuns koning maak nie. U is nou ons leier en ons wag op u bevele.”

6. Jehu skryf toe ’n tweede brief en sê vir die leiers: “As julle regtig aan my kant is, maak dan al die prinse dood en kom môre na my toe. Maar bring die koppe saam, dat ek kan sien dat hulle regtig dood is. Die seuns was tuis by leiers wat hulle moes opvoed.”

7. Toe die leiers die brief kry, het hulle gedoen wat Jehu geëis het. Hulle het al 70 die prinse doodgemaak, elkeen se kop afgekap en in mandjies gesit en na Jehu in Jisreël toe gestuur.

8. Daar het toe boodskappers vir Jehu kom sê: “Die leiers van Samaria het die koppe van die 70 prinse hier laat aflewer.” “Dis goed so,” het Jehu geantwoord. “Pak hulle nou op twee hope buite die stadspoort en los dit tot môre daar.”

9. Die volgende oggend het Jehu buite die stadspoort met die mense wat daar saamgedrom het, gaan praat. Hy het vir hulle gesê: “Julle is onskuldig. Dit is ék wat teen die koning in opstand gekom het en ék wat hom doodgemaak het. Maar wie het hierdie klomp mense doodgemaak?

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 10