Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 28:14-25 Die Boodskap (DB)

14. “Hoe lyk hy?” vra Saul. Sy antwoord: “Dis ’n ou man met ’n profetemantel aan.”Toe weet Saul dis Samuel. Hy het op sy knieë gaan staan en met sy gesig teen die grond gebuig.

15. Samuel vra toe vir Saul: “Hoekom pla jy my? Hoekom laat jy my oproep?”Saul antwoord hom: “Ek is baie diep in die moeilikheid: die Filistyne maak oorlog teen my, en God het my verlaat. Hy antwoord my nie meer nie, nie deur profete of drome nie. Ek het jou laat oproep om te hoor wat ek moet doen.”

16. Samuel sê vir hom: “Maar hoekom kom vra jy mý as die Here die rug vir jou gedraai en jou vyand geword het?

17. Die Here doen maar net wat ek vir jou gesê het Hy gaan doen: Hy het jou koningskap van jou afgeskeur en dit aan iemand anders, aan Dawid, gegee.

18. Die Here doen dit aan jou omdat jy nie na Hom wou luister nie. Hy was kwaad vir die Amalekiete en jy moes hulle uitgeroei het.

19. Die Here gaan die Israeliete saam met jou aan die Filistyne oorgee. Môre sal jy en jou seuns by my in die onderwêreld wees. Ja, die Here gaan die leër van Israel teen die Filistyne laat verloor.”

20. Toe Saul hoor wat Samuel sê, het hy só geskrik dat hy net daar, so groot as wat hy is, op die grond neergeslaan het. Hy het in elk geval nie meer krag in sy lyf gehad nie, want hy het die hele dag en nag niks geëet nie.

21. Die vrou het nader gekom en gesien hoe Saul op die grond lê en ruk. Sy sê toe vir hom: “My koning, ek het na u geluister; ek het my lewe gewaag en gedoen wat u vir my gesê het.

22. Nou moet u asseblief ook na mý luister: laat ek vir my koning ’n stukkie brood bring dat u weer krag kan kry vir die pad wat voorlê.”

23. Maar hy het geweier en gesê: “Ek wil nie eet nie!”Die twee werkers wat saam met hom was en die vrou het só by hom aangehou dat hy naderhand na hulle geluister en van die grond af opgestaan het. Hy het op die bed gaan sit.

24. Die vrou het ’n kalf in die stal by die huis gehad. Sy het die kalf so gou as wat sy kon, geslag. Sy het meel gevat, deeg aangemaak en platbrood gebak.

25. Sy het die kos vir Saul en sy werkers voorgesit. Hulle het geëet, daarna opgestaan en dieselfde nag weer weggegaan.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 28