Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 18:3-22 Die Boodskap (DB)

3. Jonatan en Dawid het vir mekaar belowe dat hulle boesemvriende sou wees, dat hulle vir mekaar net soveel sou omgee as wat elkeen vir homself omgee.

4. Jonatan het sy mantel wat hy aangehad het, uitgetrek en vir Dawid gegee. Hy het ook sy oorlogsklere en selfs sy swaard, sy boog en sy lyfband vir hom gegee.

5. Alles wat Dawid vir Saul moes doen, was ’n sukses. Daarom het Saul hom oor sy soldate aangestel. Al die manskappe en die paleiswerkers was gelukkig daaroor.

6. Toe die manne terugkom van die oorlog af waarin Dawid die Filistyn doodgemaak het, het die vroue uit al die dorpe van Israel uitgegaan om koning Saul te groet. Hulle het vrolike liedjies gesing, in die rondte gedans en op tamboeryne en ander musiekinstrumente gespeel.

7. Die vroue het gesing: “Saul het duisende verslaan en Dawid tien duisende.”

8. Daaroor het Saul baie kwaad geword. Hy het niks van die liedjie se woorde gehou nie en gedink: “Hulle prys Dawid vir tien duisende wat hy gewen het, maar mý prys hulle net vir duisende. Hulle moet hom nou nog net koning maak!”

9. Van daardie dag af het Saul Dawid nie vertrou nie.

10. Die volgende dag het ’n bose gees weer vir Saul beetgepak sodat hy soos ’n mal mens in die paleis tekere gegaan het. Dawid het, soos hy maar altyd gemaak het, vir hom op die lier gespeel. Saul het ’n spies in sy hand gehad.

11. Saul gooi toe die spies na Dawid. Hy wou Dawid in die muur vasgooi met die spies. Maar Dawid het twee keer weggekoes vir die spies.

12. Saul het toe bang geword vir Dawid. Die Here het vir Dawid gehelp, maar die Here was nie meer by Saul nie.

13. Saul wou Dawid toe nie meer naby hom hê nie. Hy het hom die leier van ’n groep soldate gemaak. Dawid het die soldate in al hulle veldtogte gelei.

14. Hy het oral sukses behaal, want die Here het hom gehelp.

15. Toe Saul sien hoe goed Dawid vaar, het hy nog banger geword vir hom.

16. Maar al die mense van Israel en Juda het van Dawid gehou omdat hy hulle in die oorlog gelei het.

17. Saul het vir Dawid gesê: “Ek wil hê jy moet met my oudste dogter, Merab, trou. Die voorwaarde is net dat jy vir my ’n dapper soldaat moet wees en in die oorloë van die Here moet veg.” Saul het gedink: “Ék hoef dan nie vir Dawid dood te maak nie; die Filistyne sal dit doen.”

18. Maar Dawid se antwoord was: “Ek en my familie is regtig te onbelangrik dat ek die koning se skoonseun kan word.”

19. Toe die tyd kom dat Merab, die dogter van Saul, met Dawid moet trou, het Saul haar laat trou met Adriël wat in Megola gebly het.

20. Intussen het Mikal, Saul se ander dogter, op Dawid verlief geraak. Toe Saul dit hoor, het dit hom goed te pas gekom,

21. want hy het gedink: “Ek sal haar met hom laat trou, dan trap hy op dié manier in die slagyster en raak die Filistyne van hom ontslae.” Daarom het hy vir Dawid gesê: “Jy kry nou nog ’n kans om my skoonseun te word.”

22. Saul het vir sy amptenare gesê: “Sê vir Dawid in die geheim: ‘Weet jy, die koning is erg oor jou, en al sy amptenare hou van jou. Jy moet daaraan dink om die koning se skoonseun te word.’”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 18