Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 2:4-19 Die Boodskap (DB)

4. Maar daar is een ding wat My baie ongelukkig maak en wat Ek nie kan oorsien nie. Julle is nie meer so lojaal en liefdevol teenoor My soos julle eers was nie.

5. Dink mooi hoe julle eers was en hoe julle nou is. Julle het darem ver geval! Verander weer julle gesindheid en optrede. Begin weer leef soos julle eers geleef het. Doen wat Ek graag wil hê julle moet doen. As julle nie wil verander nie, maar bly leef soos julle nou leef, het Ek slegte nuus vir julle. Julle gemeente sal ophou bestaan. Ek self sal julle gemeentekandelaar tussen die ander wegvat.

6. Ek sê nie julle het niks wat in julle guns tel nie. Julle haat mos die dinge wat die Nikolaïete doen. Ek hou ook niks van hierdie klomp vals mense nie.

7. Spits julle ore! Luister na die boodskap van die Heilige Gees. Dit is vir julle, die gelowiges, bedoel. Wie nie langs die pad uitval nie, maar enduit volhou, sal Ek beloon. Hy sal mag eet van die “boom van die lewe” wat in God se tuin, die paradys, staan. As iemand eers van hierdie boom se vrugte geëet het, sal hy nooit doodgaan nie.

8. Skryf aan die leier van die gemeente in Smirna die volgende: Dit is die Een wat voor alles in die skepping daar was en wat nog daar sal wees wanneer alles verby is, wat met julle praat. Dit is Ek, Jesus, wat dood was en weer lewendig geword het.

9. Ek weet hoe swaar julle kry. Ek sien hoe arm julle is. Onthou, julle is wel nie ryk hier op aarde nie, maar op ’n ander manier is julle ryk. Ek hoor hoe sleg daardie Jode julle maak. Hulle sleep julle naam deur die modder. Maar moenie te sleg voel daaroor nie. In God se oë is hulle nie meer sy mense nie. Hulle kom bymekaar in die huis van Satan.

10. Moenie tou opgooi as mense julle op die pad vorentoe seermaak en terroriseer nie. Luister, die duiwel gaan sorg dat party van julle in die tronk beland. ’n Tyd lank sal julle regtig swaarkry. God sal egter sorg dat dit nie te lank duur nie. Sien dit as ’n toets vir julle geloof en lojaliteit teenoor My, al maak hulle julle dood. Moenie ophou nie, maar hou vol tot by die wenpaal. Daar sal Ek self vir julle die prys gee wat wenners behoort te kry: die lewe wat nooit sal ophou nie.

11. Luister mooi. Die Heilige Gees sê hierdie dinge vir julle. Die een wat enduit ’n Christen bly se liggaam mag wel een maal doodgaan, maar hy sal nooit die ewige lewe verloor nie. Daar is geen manier waarop die dood dáárdie lewe van hom kan wegvat nie.

12. Skryf die volgende aan die leier van die gemeente in Pergamum: Dit is die boodskap van Hom wie se woorde diep sny soos ’n swaard wat aan albei kante skerp gemaak is.

13. Ek weet waar julle bly. Dit is waar Satan se troon staan, maar nogtans bly julle My dien. Julle is nie bang om te sê dat julle in My glo nie. Selfs toe Antipas doodgemaak is omdat hy, sonder om ’n tree terug te staan, mense van My vertel het, het julle ook nie julle geloof weggesteek nie. So te sê op die voorstoep van Satan self het julle My bly dien.

14. Maar Ek het nog ’n klomp probleme met julle. Party van julle gemeentelede luister na alles wat Bileam sê. Dit is mos hy wat vir Balak geleer het hoe om die Israeliete om te praat om afgode te begin dien. Die Israeliete het selfs aan die vieslike en onsedelike feeste deelgeneem en lekker aan afgodsvleis gesmul.

15. Julle laat julle net so deur die Nikolaïete mislei. Julle eet maar alles wat hulle sê vir soetkoek op.

16. Los hierdie dinge en luister weer voluit na My. As julle dit nie doen nie, sal julle gou julle fout agterkom. Ek sal die klomp ongehoorsames onder julle tref met die skerp swaard uit my mond. Hulle sal voel wat dit beteken om onder my oordeel deur te loop.

17. Maak oop julle ore. Luister mooi na wat die Heilige Gees vir julle sê. Wie die wenpaal haal, sal beloon word. Ek sal vir hom gee van die hemelse brood wat weggesteek is. Ek sal ook vir hom ’n wit klippie gee. Op die klippie is ’n naam geskryf wat net vir hom bedoel is. Niemand, behalwe die een wie se klippie dit is, sal weet wat die naam is nie.

18. Skryf die volgende aan die leier van die gemeente in Tiatira: Dit is ’n boodskap van die Seun van God af. Sy gloeiende oë kyk niks mis nie. Sy voete is van pragtige brons.

19. Ek weet presies wat julle doen. Noem maar op: julle het mekaar lief; julle geloof is sterk; julle help mense wat julle hulp nodig het; julle gee nie sommer moed op nie. En wat hierdie dinge betref, gaan dit elke dag net beter met julle.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 2