Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 12:1-10 Die Boodskap (DB)

1. In die hemel sien ek toe iets gebeur waaruit ons ’n belangrike les kan leer. Ek het ’n vrou gesien. Haar klere was so helder soos die son self en sy het op die maan gestaan, so belangrik was sy. Op haar kop was ’n kroon wat net mense kry wat wen en nie verloor nie. Die kroon was van twaalf sterre gemaak.

2. Sy het ’n baba verwag. Omdat sy op die punt was om die baba te kry, het sy van die pyn geskree.

3. Maar dit was nie al nie. Ek sien toe ’n groot draak in die lug met ’n bloeddorstige rooi kleur. Hy het sewe koppe en tien horings gehad. Op elke kop was daar ook ’n kroon soos ’n koning sou dra. Dit was duidelik dat hierdie draak sterk was en dat baie aardse leiers agter hom aangeloop het. Hy was vernietigend.

4. Hy swaai sy stert en slaan ’n derde van die sterre uit die hemel uit dat hulle tot op die aarde val. Die draak het reg voor die vrou gaan staan om die kind te verslind wat sy besig was om te kry.

5. Die kind word toe gebore. Dit was ’n seun, maar nie sommer enige seun nie. Hy is die Een wat oor al die mense in hierdie wêreld sal regeer. Wie nie na Hom luister nie, sal onder sy verskriklike straf deurloop. Die draak was te stadig. Toe die Seun gebore is, is Hy opgeraap en na God toe, wat oor alles heers, gevat.

6. Die vrou het die woestyn in gevlug waar God vir haar ’n spesiale plek reggemaak het. Sy het so lank as wat dit nodig was (omtrent so 1 260 dae) daar gebly. God het vir haar alles gegee wat sy nodig gehad het.

7. Daar breek toe ’n oorlog in die hemel uit. Die oorlogsgeneraal van God, Migael, en sy engele pak toe die draak in ’n oorlog. Die draak en sy engele het hulle bes probeer, maar tevergeefs.

8. Hulle het liederlik verloor. Daar was toe nie meer vir hulle ’n plek in die hemel nie. Hulle is verbied om hulle voete daar te sit. So is die groot draak uit die hemel uitgesmyt.

9. Ek praat nou van die slang van wie ons lank terug al in die Bybel lees. Sy ander name is duiwel en Satan. Hy het al die mense wat op die aarde bly heeltemal op die verkeerde pad gelei. Juis hy is saam met sy engele uit die hemel gegooi.

10. Ek hoor toe iemand wat hard praat sodat almal dit kan hoor: “Nou het God ons gered. Nou het Hy sy krag bewys. Ons God heers oor almal en sy Messias het al die mag.“Kyk net, die een wat gedurig God se kinders oor hulle foute aangekla het, is uit die hemel uitgegooi. Ja, hy het God se mense mos sonder ophou, dag en nag, voor God beskuldig.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 12