Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 1:8-14 Die Boodskap (DB)

8. “Ek is die Een by wie alles begin en waar alles ook eindig. Ek is tegelyk soos die A en die Z van die alfabet,” sê die Here God. Hy is nou by ons soos Hy in die verlede by ons was. Hy stap ook saam met ons die toekoms tegemoet. Niemand of niks kan naastenby vir Hom kers vashou nie, want Hy het mag en gesag oor alles.

9. Ek, Johannes, is julle geestelike broer. Soos julle kry ek ook swaar omdat ek ’n Christen is. Maar ek is ook deel van die magtige God se mense. Daarom raak die swaarkry my nie baas nie. Ek behoort mos aan Jesus. So van swaarkry gepraat, ek sit hier op die eiland Patmos omdat ek oor God se boodskap preek en mense met oortuiging van Jesus vertel.

10. Een Sondag het die Heilige Gees weer kragtig in my gewerk. Ek hoor toe ’n verskriklik harde stem agter my praat; dit was byna of iemand met ’n trompet hier naby my oor blaas om my aandag te trek.

11. “Skryf alles wat jy sien en beleef letter vir letter in ’n boek neer. Stuur dit dan aan die volgende sewe gemeentes: Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea.”

12. Ek draai toe versigtig om om te sien wie so met my praat. Met die omdraai val my oog op sewe kandelare. Hulle was baie werd, want hulle was van goud gemaak. Hierdie kandelare, sou ek agterkom, is eintlik die sewe gemeentes aan wie ek skryf.

13. Tussen hierdie kandelare het ek Iemand sien staan. Dit het vir my gelyk soos die Seun, die Een wat van God af sou kom om finaal te kom sê wat God oor die mense besluit het. Hy het pragtige klere aangehad, soos dié wat belangrike mense dra. Soos die heel belangrikste priester van ouds het hy goud om sy bors gedra. Dit het gewys hoe belangrik Hy regtig is.

14. Sy wysheid kon ’n mens sien aan sy spierwit hare. Dit was ook duidelik dat niemand iets vir daardie gloeiende oë kon wegsteek nie.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 1