Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 8:22-34 Die Boodskap (DB)

22. Jesus het nie doekies omgedraai nie: “Jou pad na die ware lewe toe loop agter My aan. Loop daardie pad voluit! Moenie allerhande afdraaipaadjies soek nie. Daar is genoeg ander mense wat nie hierdie pad wil loop nie. Laat hulle hulle ophou met dinge soos begrafnisse.”

23. Uiteindelik kom Jesus by die boot. Hy en sy getrouste volgelinge klim toe in en vaar na die ander kant toe.

24. Op pad oorkant toe het daar skielik ’n verskriklike storm op die meer losgebars. Die golwe was so hoog dat ’n mens nie eens meer die boot behoorlik kon sien nie. Tog het Jesus gelê en slaap. Hy het mos die vorige nag deurgewerk.

25. Sy dissipels kon dit later nie meer hou nie en maak Hom wakker: “Here, help! Ons is besig om onder te gaan!”

26. “Het julle geen vertroue in My nie?” vra Jesus. “Sê My, as julle regtig in My glo, waarvoor is julle dan so bang? Dink julle julle sal ooit kan ondergaan as Ek by julle is?” Hy staan toe op en beveel die wind met gesag in sy stem om te gaan lê en die see om stil te word. Skielik, asof iemand ’n kombers van kalmte oor die meer getrek het, was alles stil.

27. Die mense was uit die veld geslaan en het uit pure verbasing vir mekaar gevra: “Het julle gesien? Die wind en die see luister na Hom! Wie is Hy? Waar kom Hy vandaan?”

28. Kort daarna het Jesus-hulle in die gebied van die Gadareners aangekom. Hulle het skaars daar geland of twee woeste, wreedaardige mans het uit die begraafplaas na hulle toe aangehardloop gekom. Hierdie mans was totaal in die mag van demone. Hulle was baie gevaarlik. Om die waarheid te sê, die mense was so bang vir daardie mans dat hulle glad nie eens meer met dié pad langs wou loop nie. Die twee mans storm toe op Jesus af en gil hard:

29. “Haai, Seun van God, wat kom soek U hier? U het niks hier te doen nie. Of is U dalk hier om ons voor die tyd te kom bestraf?”

30. Die demone het egter geweet wat op hulle wag. Hulle sien toe daar ver teen die skuinste ’n groot trop varke loop en smeek Jesus:

31. “Asseblief, ons vra mooi: as U ons uit hierdie mans verwilder, laat ons tog toe om in daardie trop varke te gaan bly.”

32. “Nou maar goed; sorg net dat julle hier wegkom!” sê Jesus.Die demone is daarna uit die mans uit, reguit in die varke in. Die varke het heeltemal mal geword. Hulle het verwilderd op loop gegaan, reguit die see in. Daar het die laaste een van hulle versuip.

33. Die varkoppassers het so groot geskrik dat hulle in ’n stofstreep reguit dorp toe is. Daar het hulle die hele storie gaan vertel. Hulle het presies beskryf wat met die twee mans en met die varke gebeur het.

34. Hewig ontsteld oor die varke, het die dorpsmense Jesus soos een man gaan soek. Toe hulle Hom kry, jaag hulle Hom sowaar daar weg.

Lees volledige hoofstuk Matteus 8