Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 8:2-18 Die Boodskap (DB)

2. ’n Melaatse man kom versigtig nader. (Mense met ’n lelike velsiekte was volgens die Joodse wet onrein. Hulle is verbied om in die tempel in die teenwoordigheid van God te kom. Daarom wou die mense nie eintlik iets met hulle te doen gehad het nie.) Hierdie man val toe op sy knieë voor Jesus neer en buig sy kop tot laag op die grond. Daar voor almal begin hy Jesus hardop prys.Toe smeek hy Jesus: “Here, as U wil, kan U my gesond maak. Dan sal ek weer rein wees en ’n gewone lewe kan lei - ek sal weer vriende kan hê en in die tempel gaan aanbid. Ek weet U kan as U wil!”

3. Jesus sit toe sy hand op die man en sê: “Ek wil dit graag doen. Jy het dit gevra. Toe, hoekom wag jy nog?” Die man kyk toe na homself en sien die wonder: sy vel was glad en skoon. Hy was gesond!

4. “Moet asseblief nie vir almal gaan vertel wat met jou gebeur het nie,” vra Jesus hom toe. “Gaan liewer reguit na die priester toe en wys vir hom jy is gesond. As hy sê dat jou vel weer skoon is en jy weer ’n normale lewe kan lei, gaan bring dan ’n offer soos Moses dit voorgeskryf het. Mense sal dan self besef wat presies met jou gebeur het. Jou dade sal harder praat as jou woorde.”

5. Jesus was skaars in Kapernaum of ’n Romeinse soldaat met ’n hoë rang kom vinnig nader. Dringend, met ’n smekende stem, sê hy:

6. “Here, ek het ’n seun by die huis. Hy het ernstige probleme. Hy kan nie eens loop nie. En, Here, dit is so seer dat hy lê en krul van die pyn. Asseblief tog, kom help hom net!”

7. “Ek kom dadelik,” sê Jesus.

8. “Maar, Here, ek is nie belangrik genoeg dat U na my huis toe kom nie; beslis nie iemand so belangrik soos U nie! Ag, sê sommer maar hier wat moet gebeur. Ek is seker my seun sal dan gesond word.

9. Ek weet mos watter krag die woorde het van iemand wat gesag dra. Niemand hoef my iets daarvan te vertel nie, want ek is ’n soldaat en ek weet wat gesag is. Ja, elke liewe dag sê ek vir my soldate wat om te doen. En my woorde word hulle dade. As ek sê: ‘Kom!’ kom hulle en as ek sê: ‘Gaan!’ gaan hulle. Wat ek vir hulle sê om te doen, dit doen hulle.”

10. Jesus was nogal verbaas en beïndruk oor wat die man gesê het. “Sowaar,” sê Hy vir die mense daar, “Ek het nog niemand onder die Israeliete raakgeloop wat so kinderlik glo soos hierdie man nie. By hom kan julle ’n belangrike les leer. God is nie maar net die God van die Israeliete nie.

11. Nee, mense uit die hele wêreld gaan na Hom toe stroom. En Hy sal hulle met oop arms ontvang. Glo My, hierdie nie-Jode gaan almal in die hemel langs Abraham, Isak en Jakob aan die feestafel van God self aansit.

12. “Dit is ’n ironiese les. Die mense wat weet dat hulle die hemelse Koning regtig moet dien, maar dit nie doen nie, sal uit God se feessaal weggejaag word. In die donker van die hel sal die pyn en smart van mense wat sonder God is hulle oorweldig.”

13. Toe draai Jesus weer na die offisier toe. “Gaan maar huis toe. Wat jy so gelowig gevra het, het klaar gebeur.” Sy seun het dadelik gesond geword.

14. Uiteindelik kom Jesus by Petrus se huis aan. Met die intrapslag kon Jesus sommer sien dat Petrus se skoonma glad nie lekker voel nie. Sy was vuurwarm van die koors en het net daar op haar bed gelê.

15. Jesus stap toe nader en vat haar hand. Dadelik het haar koors gebreek en sy het beter begin voel. Om die waarheid te sê, sy het soveel beter gevoel dat sy dadelik opgestaan en vir Jesus kos gemaak het.

16. Die mense wou Jesus nie met rus laat nie. Tot diep in daardie nag was Hy nog besig. Veral mense op wie bose geeste ’n houvas gekry het, het na Hom toe gekom. Jesus het dié mense gehelp deur bloot met ’n bevel daardie geeste uit hulle te jaag. Daar was ook baie ander mense wat met allerhande siektes gesukkel het. Een vir een het Jesus hulle gesond gemaak.

17. Terwyl hulle Jesus so dophou, het hulle begin verstaan wat die groot profeet Jesaja bedoel het:“Waar ons so swak was dat ons nie verder kon nie, het Hy ons weer sterk gemaak. Toe ons platgeslaan was deur siektes, het Hy ons gesond gemaak.”

18. Jesus het gesien dat Petrus se huis nou te klein word vir al die mense. Dit het Hom laat besluit om van daar af na ’n plekkie aan die oorkant van die meer te gaan.

Lees volledige hoofstuk Matteus 8