Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 6:15-33 Die Boodskap (DB)

15. Moet egter nie dink God sal julle sondes vergewe as julle nie bereid is om ander mense te vergeef nie.”

16. “Wanneer julle julle so ernstig aan God toewy dat julle nie eens wil kos eet nie, moet julle nie soos die skynheiliges maak nie. In sulke tye loop hulle met ’n lang gesig rond sodat almal kan sien hulle vas. Ek sê weer: sulke mense het klaar hulle beloning weg.

17. Moenie ’n spektakel van julle godsdiens maak nie. Gaan normaalweg aan met julle lewe wanneer julle vas: kam julle hare, was julle gesigte. Lyk netjies sodat niemand agterkom dat julle besig is om ernstig te bid nie.

18. Slegs julle hemelse Vader hoef dit te weet. Hy sal wel sorg dat julle julle hemelse beloning kry.”

19. “Hou op om van die oggend tot die aand agter geld aan te hardloop. Niks hou hier vir altyd nie. Diewe breek oral in en steel, motte en goggas vreet alles op en ouderdom laat dinge vergaan.

20. Maak eerder vir julle ’n bankrekening daar by God in die hemel oop. Geen dief kan ooit daar inbreek om iets te probeer steel nie.

21. “Die dinge waarmee jy jou van vroeg tot laat besig hou, sê wat die belangrikste in jou lewe is. Jou lewe wys waar jy jou ‘rekening’ oopgemaak het.

22. “As jy hemelse skatte wil opgaar, sorg dan dat jy jou oë deur die Here laat instel sodat jy op die regte manier daarmee kan kyk. Jou oë is soos ’n lig. As jy op die regte manier daarmee kyk, maak dit alles in jou lewe helder.

23. Maar as jy jou oë nie deur God laat instel nie, maak jou oë jou hele lewe pikdonker. As daar geen goddelike lig in jou lewe skyn nie, is dit regtig nag binne-in jou.

24. “Niemand kan vir twee base werk nie. Jy sal lojaal teenoor een wees en die ander een afskeep. Moet daarom nie eens daaraan dink om God en die geldgod saam te probeer dien nie. Jy moet kies in wie se diens jy wil staan.”

25. “Moenie gedurig loop en julle bekommer nie. Moenie van vroeg tot laat vra: ‘Gaan ek genoeg hê om te eet?’ of: ‘Gaan ek genoeg hê om aan te trek?’ nie. Die lewe gaan tog oor baie meer as kos en klere.

26. Kyk ’n slag na die voëls: hulle het nie groot skure waarin hulle elke dag hulle kos bêre nie. Tog is hulle nooit honger nie. God sorg dat hulle elke dag genoeg het om te eet. Weet julle, julle is baie meer werd vir God as al die voëls in die hemel.

27. Daarom help al julle bekommernis net mooi niks. Dit gaan nie julle lewe met een enkele dag verleng nie. Allesbehalwe!

28. “Julle moet ook nie sit en tob oor wat julle elke dag moet aantrek nie. Kyk gerus ’n bietjie in die veld hoe mooi die lelies lyk wat daar groei. Hulle werk nie van vroeg tot laat om so deftig te lyk nie.

29. Tog was nie eens daardie skatryk koning Salomo ooit so mooi aangetrek soos een van hulle nie.

30. “As God soveel aandag gee aan hoe die veldgras lyk, wat vandag nog groei en môre weer dood is, sal Hy mos vir julle ook sorg.

31. Hou dan op om so kleingelowig te wees! Hy sal sorg dat julle genoeg het om aan te trek. Hou op om te sê: ‘Wat gaan ons vandag eet en drink?’ of: ‘Wat gaan ons vandag aantrek?’

32. As julle dit doen, tree julle op soos mense wat God glad nie ken nie. Julle het mos ’n Vader in die hemel wat presies weet wat julle nodig het. Hy sal sorg dat julle dit alles kry.

33. “Stel God se koninkryk eerste. Doen net daardie dinge wat vir Hom belangrik is. Hy sal vir die res sorg. Hy sal elke dag vir julle genoeg kos en klere gee. En los môre se probleme vir die dag van môre. Van probleme het elke dag immers oorgenoeg. Leef vandag voluit vir God!”

Lees volledige hoofstuk Matteus 6