Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 4:4-21 Die Boodskap (DB)

4. Jesus het egter dadelik ’n antwoord vir Satan gereed gehad: “Daar staan in die Bybel geskryf: ‘’n Mens leef nie net van brood nie. Nee, ’n mens leef van alles wat God sê.’”

5. Daarna het die duiwel Jesus na Jerusalem toe gevat. Daar het hy Hom op die hoogste punt van die tempel laat staan.

6. Hy sê toe vir Jesus: “Bewys dat jy regtig God se Seun is. Spring hier af! Daar staan mos in die Bybel geskryf: ‘God het vir sy engele gesê dat hulle jou moet beskerm. Hulle sal jou op hulle hande dra sodat jy nie eens jou voet teen ’n klip sal stamp nie.’”

7. Toe sê Jesus vir die duiwel: “Ja, maar daar staan ook in die Bybel geskryf: ‘Jy mag nie die Here jou God uittart nie.’”

8. Die duiwel was egter nog nie klaar met sy versoekings nie. Hy het Jesus na die top van ’n baie hoë berg gevat. Van daar af het hy Hom al die lande van die wêreld gewys met al hulle glans en rykdom.

9. Toe sê hy vir Jesus: “Dit alles is joune. Ek gee jou al hierdie lande op ’n skinkbord. Daar is egter net een voorwaarde: buig gou voor my en aanbid my as jou god.”

10. Daarop het Jesus skerp gereageer: “Gee dadelik pad van My af, Satan! Die Bybel sê: ‘Jy moet net die Here as jou God aanbid. Hom alleen moet jy dien.’”

11. Na hierdie woorde het die duiwel Jesus uitgelos. Baie engele het toe na Jesus toe gekom. Hulle het Hom versorg met alles wat Hy nodig gehad het.

12. Later, nadat Jesus uit die woestyn teruggekeer het, het Hy gehoor dat Johannes die Doper in die tronk gegooi is. Hy het toe teruggegaan Galilea toe.

13. Jesus het egter besluit om nie langer in Nasaret te bly nie. Sy nuwe woonplek was Kapernaum. Dit is by die See van Galilea, in die omgewing van Sebulon en Naftali.

14. So het die profetiese woorde van Jesaja waar geword toe hy gesê het:

15. “Sebulon en Naftali, wat op pad na die see toe lê, daar oorkant die Jordaan, daar by julle in Galilea bly baie volke.

16. Maar hulle almal leef in die donker. Nou het hulle egter ’n groot lig gesien! Hulle bly in ’n land waar die dood se skaduwee oor almal val, maar nou het die son oor hulle opgekom.”

17. Van toe af het Jesus ook begin preek. Hy het vir die mense gesê: “Julle moet julle lewe radikaal verander, want God se nuwe wêreld is hier!”

18. Eendag het Jesus by die See van Galilea gaan stap. Hy kom toe af op twee broers, Simon en Andreas. (Simon is later Petrus genoem.) Hulle twee was vissermanne. Hulle was juis besig om hulle nette in die see te gooi toe Jesus vir hulle sê:

19. “Laat staan julle nette. Kom agter My aan! Word my volgelinge. Dan sal Ek julle wys hoe om op ’n nuwe manier vis te vang. Ek sal julle leer om van nou af mense te vang wat in sonde leef sodat hulle deel kan kry aan God se nuwe wêreld.”

20. Dadelik het Simon en Andreas hulle visnette neergesit en agter Jesus begin aanstap.

21. ’n Entjie verder het Jesus op nog twee broers afgekom, Johannes en Jakobus. Saam met hulle pa, Sebedeus, was hulle hard aan die werk om hulle visnette heel te maak. Jesus het by hulle gaan staan en ook vir hulle gesê om alles net so te los en sy volgelinge te word.

Lees volledige hoofstuk Matteus 4