Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 13:2-12 Die Boodskap (DB)

2. Daar was so baie mense saam met Hom dat Hy in ’n bootjie moes klim sodat almal Hom kon sien. Die mense het op die wal bly staan. Jesus was lief om verhale in sy preke te gebruik om so sy boodskap vir die mense duideliker te maak. Met die bootjie as sy kansel het Hy begin preek:

3. “Daar was ’n boer wat saad in sy land gaan saai het. Hy het die saad met sy hand oor die grond uitgestrooi. Met die strooi het van die saadjies op die voetpad deur die land geval.

4. Die voëls was dadelik by en gou was daar niks van hierdie saad meer oor nie.

5. Van die ander saad het op die groot rotse in die land geval. In die holtes van die rotse was daar grond. Die saad het gou opgekom, maar kon nie wortels maak in die vlak grond nie. Daarom kon die plantjies nie grootword nie.

6. Die son het hulle gou doodgebrand.

7. Van die saad het ook tussen lae doringbosse beland. Soos die bosse groter geword het, het dit die plantjies heeltemal doodgedruk.

8. Dan het daar ook saad in die land self geval waar die grond goed voorberei was. Daardie plante het goed gegroei en ’n oes gegee wat alle verwagtings oortref het.“Hoor julle wat Ek vir julle sê?

9. “Asseblief, luister mooi!”

10. Voor Jesus verder kon praat, vra sy getrouste volgelinge Hom: “U vertel altyd verhale wanneer U preek. Hoekom?”

11. “As julle mooi na my verhale luister, sal julle baie oor God se mag in hierdie wêreld leer. Julle sal dinge hoor wat julle nog nooit oor God se nuwe wêreld gehoor het nie. Julle wat My ken, sal die verhale reg kan verstaan.“Maar wie die verhale nie met die oog op my boodskap wil verstaan nie, sal nooit weet wat dit beteken nie.

12. Hoe meer julle van God se nuwe wêreld verstaan, hoe duideliker sal die verhale vir julle word. Hoe duideliker dit word, hoe meer sal julle van God se nuwe wêreld verstaan. Vir mense wat egter nie die verhale wil verstaan soos Ek dit bedoel nie, sal dit net leë stories bly.

Lees volledige hoofstuk Matteus 13